POLITEÏSME

POLITEÏSME – van die Griekse woorde poli- (baie) en theos (God), dus veelgodedom – vertoon so ’n wye verskeidenheid vorms dat geen enkele voorstelling algemeen-geldig is nie. Gewoonlik gaan dit met beeldediens gepaard. Soms is ’n oppergod met ’n hiërargie van mindere gode aanvaar, elk met sy of haar eie magsgebied, kultus en tempel. Die vroeëre teorie dat veelgodedom ’n oorgangstadium was in die evolusie van die godsdiens* vanaf animisme* (vere­ring van geeste) na monoteïsme* (een God), is grotendeelds laat vaar. Tans verklaar godsdienswetenskaplikes politeïsme eerder as ’n voorwetenskaplike respons op natuur­kragte en algemeen-menslike verskynsels wat gepersonifieer en as gode vereer is – songod, Nylgode (by Egipte*); vrugbaar­heidsgod en -godin (Baäl* en Astarte* by Mesopotamië* en Kanaän*); oorlogsgod en liefdesgodin (Mars en Venus by Romeine). Terwyl slegs die Hindoeïsme* in ons tyd onder politeïsme gereken word, was dit in die antieke kultuurwêreld die reël – met Israel* se monoteïsme die groot uitsondering. Vir die verbondsvolk onderweg van Egipte na Kanaän* was die eerste en tweede gebod uiters aktueel! Later sou die profete*, en nog later die apostels*, afgodery en beelde­diens ten skerpste veroordeel, selfs bespot (Jes 44:6-23; Hand 17:16, 29; Rom 1:23). Christus* self praat pertinent oor Mammondiens (Matt 6:24).

Vir verdere lees: D Chidester 1992. Religions of South Africa. Londen: Rout­ledge; DA Hughes 1988. “Polytheism” in: SB Ferguson en DF Wright (reds), New Dictionary of Theology. Leicester: IVP. Piet Meiring en Arno Meiring (reds) 2015. Suid-Afrika, land van baie godsdienste. Wellington: CLF.

 

Sidebar