POLITIEKE ETIEK

POLITIEKE ETIEK. Politieke filosofie verwys na die filosofiese dissipline waarin daar nagedink word oor vraagstukke wat opgeroep word deur die sosiale instellings waardeur mense se saambestaan georga­niseer en dikwels deur magsuitoefening beheer word. Dit is vraagstukke soos: wat ’n samelewing moontlik maak, wat ’n staat* is en wat die funksie(s) van regering is, watter verhouding daar behoort te wees tussen staat en burger en gemeenskap, wat mag* is en hoe, wanneer en deur wie dit oor wie uitgeoefen mag word, wat gesag* is, wat ’n wet is en waarom dit gehoorsaam behoort te word, watter vryhede, regte en pligte indiwidue, staat en burger en state onderling teenoor mekaar het.

Hieruit is dit duidelik dat daar natuurlikerwys ’n groot oorvleueling is tussen die probleemvelde van die etiek* en die politieke filosofie, want hoe mense behoort te handel en wat die goeie is, die waardevolle in sigself, kan meestal nie losgemaak word van die politieke organisasie van die same­le­wing en die vrae, soos bogenoemde, wat dit oproep nie; omgekeerd kan daar nie oor die meeste van hierdie politiek-filosofiese vrae besin word, sonder om gebruik te maak van die begrippe wat in die etiek ontleed word nie. In die politieke etiek word daar nagedink oor vraagstukke en begrippe wat tot hierdie oorvleueling tus­sen etiek en politieke filosofie behoort. Voorbeelde van sulke vraagstukke is: Watter beginsels behoort gevolg te word in die ordening en regering van ’n samelewing om die grootste mate van regverdigheid en geregtigheid* te verwesenlik, wat bepaal die gesag van ’n wet en wanneer verval hierdie gesag, waarop berus die mag van ’n staat en wanneer en hoe mag burgers hierdie mag teëstaan of selfs omverwerp en hoe kan owerheidsgesag die beste versoen word met indiwiduele vryheid?

 

Sidebar