POSITIWISME

POSITIWISME is deur Saint-Simon (1760–1825) ingelei en deur sy leerling Auguste Comte (1798–1857) uitgewerk tot ’n optimistiese wêreldbeskouing op die basis van die wetenskaplike vooruitgang. Comte het ná ’n teologiese* en ’n filosofiese fase ’n “positiewe” of wetenskaplike fase onderskei, wat hy sien uitmond het in ’n soort heilstaat. Nog altyd het die term “positiwisties” gedui op ’n streng opvatting van (na­tuur)wetenskap en ’n groot vertroue in die wetenskap se vermoë om probleme op te los, al het die aanduiding “sciëntisties” in hierdie verband gebruikliker geword.

Die “logiese positiwisme*” het bekendheid verwerf deur die sg Wiener Kreis, ’n groep geleerdes wat tydens die tussenoorlogtyd probeer het om wetenskap en metafisika as sin en onsin van mekaar te skei met behulp van ’n sg verifikasiebeginsel: Net dit wat deur sintuiglike waarneming bewys kan word, mag hiervolgens wetenskaplik genoem word. Hierdie beginsel het onder meer daartoe gelei dat enige spreke oor God as sinloos afgewys is, aangesien sulke spreke nie empiries verifieerbaar is nie. Die verifikasiebeginsel het egter gou onhoudbaar geblyk te wees, aangesien baie van die uitsprake wat algemeen as waar erken is, nie daaraan voldoen het nie. Pogings om die probleme reg te stel deur die kriterium af te swak, het geen oplossing gebied nie. Deesdae word die logies-positiwistiese program algemeen as agterhaal beskou, maar die onderliggende (anti-religieuse) sentiment het deurgaans sy aantrekkingskrag behou.

Sidebar