POSTFUNDAMENTELE TEOLOGIE

POSTFUNDAMENTELE TEOLOGIE vind aanklank by die postmoderne kritiek op epistemologiese (epistemologie = kennisteorie) fundamentalisme. ’n Belangrike vertrekpunt van epistemologiese fundamentalisme is dat ons oortuigings geldig­heid verkry deur dit te baseer op een of ander kenniskomponent wat as duidelik en onbetwyfelbaar geld. Oortuigings berus sodoende op kennissisteme wat op sg vaste en onherroeplike fondamente opgerig is. Daarom behels funda­men­talisme*, in die epistemologiese sin van dié woord, altyd die inneem van ’n onbuigsame en onfeilbare posisie. Postmo­dernisme* behels onder andere die verwerping van alle vorms van epistemologiese fundamentalisme sowel as die kenniskonstrukte wat aan die hand daarvan verrys. Die postfundamentele benadering vind hierby aanklank, maar staan tog ook tegelyk krities teen ’n totale relatiwisme*.

Postfundamentele teologie moet onderskei word van die nie-fundamentele of anti-fundamentele epistemologie wat beklemtoon dat elke kennisgemeenskap, soos die bioloë, filosowe of wiskundiges, hulle eie manier van dink, doen en besluit het. In sy uiterste vorm word dit nie-fundamenta­lisme, wat ’n totale relativering van die manier waarop verskillende groepe tot kennis kom, behels. Só ’n posisie maak die gesprek tussen die verskillende wetenskappe onmoontlik, onder meer die ge­sprek tussen die teologie* en die ander wetenskappe.

Teenoor bg twee uiterstes (die fundamentele en die antifundamentele) neem die postfundamentele teologie ’n eiesoortige posisie in en gee erkenning aan die groot invloed wat die eie konteks op ons waarheidstrewe het en die sleutelrol wat interpretasie in die kenproses speel, asook die effek van tradisie op ons nadenke. Die uitwerking van hierdie faktore op die kenproses maak dit onmoontlik om tot sg onwankelbare waar­hede deur te dring. Andersyds wil postfundamentele teologie waarhede formuleer wat in die publieke arena, dus ook buite die grense van die plaaslike groep en kul­tuur, gekommunikeer kan word. Met die oog hierop, soek postfundamentele teologie na die gemeenskaplike in die menslike denkprosesse. Dit wil ’n goed verantwoorde epistemologie daarstel wat die toets van intergroepgesprekvoering kan deurstaan.

Vir verdere lees: JW van Huyssteen 1997. Essays in Postfoundationalist Theology. Grand Rapids: Eerdmans. JW van Huyssteen 1998. Duet or Duel: Theology and Science in a Postmodern World. Harrisburg: Trinity.

 

Sidebar