POSTMODERNE FILOSOFIE

POSTMODERNE FILOSOFIE het in die tweede helfte van die 20ste eeu in Frankryk ontstaan as kritiek op kontinentale filosofie. Postmoderne filosofie is grootliks beïnvloed deur vroeër werke van filosowe soos Friedrich Nietzsche*, Ed­mund Husserl, Martin Heidegger* en Ludwig Wittgenstein, die psigoanalitikus Jacques Lacan, die strukturalis Roland Barthes, asook uit die kunswêreld deur Marcel Duchamp. Dit word veral gekenmerk deur skeptisisme oor die eenvoudige binêre (tweeledige) teenstellings wat Westerse metafisika en humanisme* oor­heers het, soos bv die verwagting dat die filosoof kennis van onkunde, sosiale vooruitgang en agteruitgang, oorheersing en onderwerping, teenwoordigheid en afwesigheid, netjies en gemaklik kon on­derskei. Die mees invloedryke vroeë postmoderne filosowe was die Franse Michel Foucault, Jean-Francois Lyotard en Jacques Derrida. Foucault het hom toegespits op die rol van mag in die totstandkoming en verandering van kennis; Lyotard op die rol van die narratief in menslike kultuur en die veranderende rol van die mens in die oorgang van moderniteit na ’n post-industriële wêreld (ook genoem: “postmodern condition”); en Derrida, die grondlegger van dekonstruksie (Kyk by: Dekonstruk­tiwis­me), wat postmoderne filosofie as ’n vorm van tekskritiek benader het en waarin hy menslike kultuur geherformu­leer het as ’n onsamehangende netwerk van menigvul­dige tekeninge en skrywes met ’n afwesige outeur. As latere invloed­ryke postmoderne filosowe geld onder andere Julia Kristeva, Jean Baudrillard*, Paul Feyerabend, Gilles Deleuze, Felix Guattari, Paul de Man, Cornel West, Gianni Vattimo en Alain Badiou. (Kyk ook: Postmoder­nisme.)

 

Sidebar