POSTMODERNISME

POSTMODERNISME dui op ’n wydverspreide kritiese instelling teenoor die mo­dernisme* wat kenmerkend van die hedendaagse Westerse kultuur is, terwyl die term “postmoderniteit” meestal gebruik word as aanduiding van die periode waarin hierdie kritiese instelling in die kultuur dominant geword het. Hierdie kritiese instelling het in filosowe soos Friedrich Nietzsche*, die latere Ludwig Wittgenstein en Martin Heidegger* belangrike voorlopers gehad. As ’n algemene kulturele verskynsel tree dit egter eers in die tweede helfte van die 20ste eeu sterk na vore. In die laat 1950’s wend Irving Howe in die VSA die term “postmo­dernisme” vir die eerste keer in die literêre kritiek aan om ’n bepaalde afwyking van modernistiese beginsels in die letterkunde aan te dui. Eers in die 1970’s het die term ’n meer algemene gebruik gekry: eers in die argitektuur en toe ook in die beeldende kunste en films. Gedurende die middel 1970’s verhuis die term via Parys en Frankfurt na Europa waar dit die filosofiese debat binnedring.

Die modernisme wat in die Verligting* (Aufklärung*) sy finale stempel gekry het, word onder andere deur die volgende uitgangspunte gekenmerk: die outonome rede is die finale maatstaf in die kritiese beoordeling van oorgelewerde oortuigings oor die werklikheid en die regte optrede; deur middel van die aanwending van die rede in natuurwetenskappe soos wiskunde en fisika kan objektiewe, definitiewe kennis van die werklikheid verkry word; die afsonderlike begrippe waaruit die taal van mense bestaan, verwys noukeurig na die afsonderlike dele waaruit die werklikheid bestaan; deur die wetenskap en die tegnologie kan menslike emansipasie volledig bewerkstellig word; vanweë die fenomenale ontwikkeling van die wetenskap en die tegnologie vertoon die geskiedenis ’n onbetwisbare vooruitgang na ’n beter toe­koms vir die mensdom.

Die postmodernisme stem nie met hierdie uitgangspunte van die modernisme saam nie. Dit aanvaar nie dat daar so iets as ’n outonome rede bestaan wat volledig onafhanklik van emosies en tradisies funksioneer nie. Die sg “objektiewe” kennis van die werklikheid is altyd gekleur deur die gevoelens wat ’n indiwidu se lewe beheers en deur die tradisionele sienings van die groep waartoe sy of hy behoort. Trouens, ons moet aanvaar dat alle taalbegrippe konvensionele konstruksies is en geensins die werklikheid, soos dit in sigself is, getrou weerspieël nie. Ons “ken” die werklikheid dus nie anders as binne die raamwerk van spesifieke lokale tradisies en verhale nie. “Eksakte” wetenskappe soos wiskunde en fisika het in dié verband ook nie ’n bevoorregte posisie nie. Hulle bied ewe-eens verhale oor die werklikheid wat deur die tradisies van bepaalde gemeenskappe van wetenskaplikes bepaal word. Verteen­woordigers van die postmodernisme meen ook dat dit duidelik geblyk het dat die groei in wetenskaplike kennis en tegnologiese ontwikkeling nie op sigself die emansipasie van die mens teweeg kan bring nie. Al kan die positiewe gevolge vir die mensdom nie ontken word nie, moet ons ook kennis neem van die mags- en geweldsuitoefening wat daarmee gepaard gaan. As gevolg van die negatiewe newe-effekte van wetenskap en tegnologie wat selfs die voortbestaan van alle lewe op aarde bedreig, is die postmodernistiese siening van die toekoms ook geensins ’n ongekwa­lifiseerd optimistiese een nie. (Kyk ook: Postmoderne Filosofie.)

Vir verdere lees: S Grenz 1996. A Primer on Postmodernism. Grand Rapids: Eerd­mans. JM Kirsten 1988. “Die postmoderne projek: Aspekte van die hedendaagse afskeid van die moderne”, Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Wysbegeerte 7(1), 18–36. G Ward 1997. “Introduction, or A Guide to Theological Thinking in Cyberspace” in: G Ward (red) The Postmodern God: A Theological Reader. Oxford: Blackwell.

 

Sidebar