POSTSTRUKTURALISME

POSTSTRUKTURALISME is ’n benaderingswyse wat sedert die 1970’s in die Europese filosofie* ontwikkel het, hoofsaaklik in die denke van ’n aantal Franse filosowe, en navolging vind in verskeie geesteswetenskappe waar dit breed­weg as postmodernisme* bekend staan. Dit is ’n eklektiese manier van denke, analise en kritiek wat moeilik onder een noemer gebring kan word. Dit sluit aan by sommige van die uitgangspunte, begrippe en perspektiewe van die strukturalisme*, maar radikaliseer die konsekwensies daarvan deur dit te bevrug met idees van denkers soos Nietzsche*, Marx*, Freud* en Heidegger*. Taal word opgeneem as ’n oop, onbegrensde sisteem van tekens en kodes wat ons ervaring en kennis van die werklikheid, ons sosiale verhoudings en kultuur, ons bewussyn en selfbelewing op allerlei kontingente maniere struktureer. Hierdie allesbepalende, konstruerende en relati­verende funksie van taal, word ook met die term diskoers aangedui. In sy analises toon Michel Foucault (1926–1984) aan hoe verskillende, verskuiwende diskoerse in die Westerse geskiedenis bepalend was vir hoe sake soos die “subjek” (self), redelikheid, seksualiteit, misdaad, straf en waansin verstaan en aan vorm gegee is. Binne die psigo-analise fokus Jacques Lacan (1901–1981) op die talige struktuur van die onbewuste. In ’n benadering wat as dekonstruksie (Kyk by: Dekonstruktiwisme) bekend geword het, beklemtoon Jacques Derrida (1930–2005) die tekstualiteit van ons erva­ring en die onfikseerbaarheid van betekenis, of te wel dat elke poging om die betekenis van ’n gegewe vas te stel, ’n magsgreep is waardeur één interpretasie ten koste van ander moontlike interpretasies afgedwing word en gevolglik weer omvergewerp kan word.

Sidebar