POTGIETER, FREDERIK JOHANNES MENTZ

POTGIETER, FREDERIK JOHANNES MENTZ (1907–1992) is op Barkley-Oos gebore. Sy ma is oorlede toe hy 18 dae oud was en hy het daarna by sy oupa en ouma grootgeword. Hy matrikuleer op Zastron en gaan studeer aan die Universiteit van Kaap­stad en daarna op Stellenbosch. Gedurende sy eerste jaar aan die Kweekskool het hy ’n proefskrif in sielkunde voltooi. Ná sy Kweekskooljare is hy na die Vrije Univer­siteit* van Amsterdam waar hy in 1939 promoveer met die proefskrif Die verhouding tussen teologie en filosofie by Calvyn.

In Suid-Afrika was hy eers predikant* van die NG Kerk* in Steynsburg en Robertson voordat hy in 1946 professor geword het aan die Kweekskool, eers in kerkgeskiedenis* en later in dogmatiek*. Potgieter was ’n kenner van Calvyn* – uit wie se werk hy ’n geslaagde dagboek saamgestel het – en het ook aansluiting gevind by Abraham Kuy­per* en Herman Bavinck*. Oor Karl Barth* was hy krities. Hy het baie aandag aan die Goddelike inspirasie (teopneustie*) van die Skrif* gegee. Potgieter het hom tydens ’n voordrag op Stellenbosch aan die begin van 1958, en ook in 1961 as medeskrywer van die boek Grense, sterk uitgespreek ten gunste van die Skriftuurlike fundering van die apartheidsbeleid*. Hy het onder meer geskryf: “Op hierdie twee suile: die gedagte van die veelvormigheid en die selfbe­skikkingsreg van die verskillende volke oor die woonplekke wat God aan hulle as erfdele op aarde gee (Deut 32:8 en Hand 17:6), rus die apartheidsbeleid” (Grense, bl 30). Tydens die Kerkeberaad by Cottesloe* (1960), waar hy lid van die NG Kerk se afvaardiging was, het hy die verklaring onderskryf dat die swartmense van Suid-Afrika uiteindelik stemreg moet kry waar hulle woon.

Sidebar