PRAGMATISME

PRAGMATISME berus op die beginsel dat idees, standpunte en voorstelle nuttig, uitvoerbaar en prakties moet wees. Alle wetenskaplike aansprake moet uitsluitend volgens die praktiese nut vir die mens be­oordeel word. Die vertrekpunt van alles is dít wat uitvoerbaar is of die verlangde resultaat sal lewer. As ’n skool in die filosofie* het hierdie denkrigting in Amerika beslag ge­kry. Die vernaamste voorstanders daarvan was Charles Sanders Peirce (1839–1914), William James (1842–1910) en John Dewey (1859–1952). Vandag funksioneer pragmatisme nie meer eksplisiet as ’n filosofiese sisteem nie. Tog oefen die pragmatiese oortuiging dat die finale toets vir alles die vraag is of dit vir die mens van nut is, as ge­volg van die sterk klem op tegnologiese ontwikkeling in ons tyd, nog steeds sterk invloed uit. Dit is duidelik dat so ’n oortui­ging as uitgangspunt in die teologie*, onvermydelik ’n sterk reduksie van tradisionele geloofsoortuigings sal meebring.

 

Sidebar