PRAKTIESE TEOLOGIE

PRAKTIESE TEOLOGIE is vir die eerste keer in 1774 as universiteitsvak aangebied by die Katolieke* Universiteit van Wenen en wel as “pastorale teologie”. In 1794 is dit aan die Protestantse* Universiteit van Tübingen aangebied. F Schleiermacher* (1768–1834) het die vak “praktiese teologie” genoem. Vir baie jare het die vak gefunksioneer as die toepassing in die praktyk van die insigte van die ander teologiese vakke. Ná 1960 het dit ’n selfstandige studieveld en ’n eie metodologie verkry. Die kritiese verhouding tussen teorie en praktyk word die grondslag van die vak, met ’n toewending na die Christelike praktyk binne die konteks waar die studie plaasvind. Uiteraard het die vak ook daarmee ’n empiriese en kommunikatiewe aspek verkry.

Daar is ’n verskeidenheid van benade­ringswyses tot hierdie gemeenskaplike stu­die­veld, soos die hermeneutiese benade­ring wat op die een of ander manier by alle benaderings funksioneer, die empiriese benadering wat ook op die een of ander wyse by almal toegepas word, en die benadering van kommunikatiewe handelinge waarin kommunikasie belangrik is. In die postmoderne tyd het die narratiewe (verhalende) benadering sterk na vore gekom met as basis die post-fundamentele siening wat krities omgaan met die fundamentele siening van die modernisme en die anti-fundamentele siening van die postmodernisme*.

Vir verdere lees: F Schweitzer en JA van der Ven (red) 1999. Practical Theology – International Perspectives. Frankfurt am Main, New York, Wenen: Lang. LM Heyns en HJC Pieterse 1994. Eerste treë in die Praktiese Teologie. Pretoria: Gnosis.

 

Sidebar