PRE-EKSISTENSIE

PRE-EKSISTENSIE wil die bestaan be­skryf voordat die skepping* en die geskiedenis ’n aanvang geneem het. Soms word die term ewigheid*, in teenstelling met tyd, ook daarvoor gebruik. Die ewig­heid is dus vóórdat die tyd ingetree het. By die voltooiing van die geskiedenis sal die ewigheid weer intree – hierdie keer met die eksistensie ingesluit as die tyd oorgaan in die ewigheid, vandaar die uitspraak: “van ewigheid tot ewigheid”. Of ’n mens dit “eindelose tyd” of “tydloosheid” moet noem, is debatteerbaar. Alhoewel die woord pre-eksistensie nie in die Bybel* voorkom nie, word God wel as die Ewige gesien, soos in sy self-benaming, “Ek is”. Hy staan bo die tyd, is Here* of Outeur van die tyd, en het dit geskep. In die wysgerige begin van die Johannes*-Evangelie word die pre-eksistensie van die Woord* (1:1; 8:58) – dit wil sê, Jesus* as die Seun* – benadruk. Dit gebeur waarskynlik om ’n opvatting te weerlê wat dit betwyfel het, of die Seun ondergeskik gemaak het aan, of as ’n skepping gesien het van, die Vader* (Joh 1:18). Daarom ook dat Johannes die gelykheid en die eenheid van die Vader en die Seun so sterk beklemtoon (Joh 17:24).

Sidebar