PREDESTINASIE

PREDESTINASIE is die leerstuk waarvolgens God sekere mense “gepredestineer”, voorbeskik, verkies het om verlos te word. In die Ou Testament* val die klem op die feit dat God vir Israel* as verbondsvolk* verkies het. Israel se verkiesing was nie gebaseer op hulle eie meriete nie, maar op God se genade* (Deut 7:6-8; Eseg 16). Hierdie verkiesing begin met die roeping van Abraham* (Gen 12). Volgens die Ou Testament het God sy volk met ’n spesifieke doel verkies: Om ’n seën vir ander volke te wees (Jes 2:2-4).

In die Nuwe Testament* kom daar twee veranderings: 1. God se verkiesing word nie meer beperk tot een volk nie; 2. Die rol van Christus* bring ’n verandering. Op verskeie plekke in die Nuwe Testament word God se “wil” (Hand 2:23) en sy “genadige bedoe­ling/beskikking” (Matt 11:26; Ef 1:5) beklemtoon. Die volledigste beskrywing van die predestinasie kry ’n mens in Ef 1:4 waar die volgende beklemtoon word: 1. God het die gelowiges* “uitverkies/bestem” “voordat Hy die wêreld geskep het”; 2. Dit het “in Christus*” plaasgevind; 3. Gelowiges is uitverkies om “heilig* en onberispelik voor Hom te wees” en om God se “kinders” te wees.

Die gedagte van Goddelike verkiesing kom ook elders in die Nuwe Testament voor, bv dat dié wat “vir die ewige lewe bestem was”, tot geloof* ge­kom het (Hand 13:48), en dat gelowiges deur die Vader* aan Christus “gegee” is (Joh 10:29). In Openbaring* word die idee van die verkiesing uitgedruk deur die beeld van “die boek van die lewe” (3:5).

Die gedagte dat God se verkiesing net beteken dat Hy vooraf geweet het wie tot geloof sal kom, laat nie reg geskied aan Bybelse gegewens nie. Teoloë verskil oor wanneer die verkiesing plaasgevind het. Aanhangers van die supralapsarisme* meen dat dit vóór die sondeval gebeur het, terwyl aanhangers van die infralapsarisme* dink dat dit ná die sondeval gebeur het. (Kyk ook: Uitverkiesing.)

Sidebar