PREDIKANT

PREDIKANT. Die woord kom van die werkwoord “predik” wat verband hou met die verkondiging van God se Woord. Dit is ook die term wat gebruik word vir ’n leraar of herder van ’n gemeente, en as wisselterm word by gereformeerdes* ook die woord “dominee” gebruik. Die werk van ’n predikant begin by ’n roeping* wat iemand van God ontvang om sy of haar lewe vol­tyds aan die bediening van die evangelie* te wy. Die lewe en werk van ’n predikant sentreer rondom die Woord* van God. Die predikant word deur God geroep om in en vanuit dié Woord te leef, daarmee te wor­stel en dit te beliggaam. Die lewe en werk van ’n predikant vind, in navolging* van Jesus* Christus* se lewe, uitdrukking in vier kernaktiwiteite wat ’n verskeidenheid vorms kan aanneem. In die hart staan die gebedslewe en persoonlike verhouding met God van waaruit dit moontlik raak om die ander aktiwiteite te behartig. Predi­king* hou verband met die studie, verstaan en kommunikasie van God se Woord hoofsaaklik binne die erediens*, maar ook wyer in ’n verskeidenheid vorms van evange­lisasie*. Lering vind uitdrukking binne die kategetiese onderrig, Bybelstudies en By­bel­skole* van ’n gemeente*. Pastorale sorg het te maak met die versorging en onder­steuning van mense wat óf in nood verkeer óf ’n behoefte het aan geestelike leiding.

Vir verdere lees: WH Willimon en RL Lischer 1995. Concise Encyclopedia of Preaching. Westminster: John Knox Press.

 

Sidebar