PREDIKER (BYBELBOEK)

PREDIKER (BYBELBOEK) is een van die boeke van die Ou Testament* waaroor daar baie meningsverskil bestaan, veral oor sake soos die datering en die boodskap van die boek. Dit is, soos Spreuke* en Job*, ’n wysheidsboek en moet dus as wysheidsli­teratuur gelees word. Wanneer ’n mens egter Prediker en veral Spreuke vergelyk, is dit duidelik dat die aard van die twee boeke drasties verskil. Waar Spreuke ’n praktiese en positiewe boodskap wil oordra, het Pre­diker ’n meer negatiewe en somber toon. Die twee boeke vertoon die kenmerke van verskillende fases in die ontwikkeling van die wysheidtradisie in die Ou Testament. In Spreuke kom ’n meer eenvoudige en ongekompliseerde vorm van wysheid voor, wat uitgaan van die gedagte wat ook in Ps 1 gestel word, nl dat die regverdige be­loon en die goddelose gestraf word. Spreuke bied lewenswysheid gebou op hierdie beginsel. Die skrywers van Spreuke, wat hulle veral gerig het op ’n jong persoon wat vir die lewe toegerus word, het gewys wat die regte manier is om te leef en ook wat die gevolge van ’n verkeerde manier van leef is. Tog is hierdie eenvoudige wys­heid nie onproblematies nie. Job se vriende het van hierdie eenvoudige wysheid uitgegaan. Die feit dat Job een ramp na die ander beleef het, was vir hulle die bewys dat hy sonde* gedoen het en daarvoor ge­straf word. Job het hierteen gestry en volgehou dat hy nie sonde gedoen het waarvoor hy gestraf word nie. In Prediker kry ’n mens dieselfde soort worsteling met ’n ongekompliseerde wysheid wat ’n reguit lyn trek tussen wat jy beleef en jou dade. Soos Job wys Prediker dat die lewe dikwels meer ingewikkeld is en dat slegte dinge inderdaad met goeie mense kan gebeur.

Outeur en ontstaanstyd: Die tyd wanneer die Prediker geleef het en die boek ontstaan het, is taamlik onseker. Die inlei­ding in Pred 1:1 verwys na die Prediker as die seun van Dawid* en koning* in Jeru­salem*. Dit het mense van vroeg af laat dink dat Salomo* die Prediker is. Hoofstuk 1:12-18 en 2:1-11 laat ’n mens ook dink aan die omstandighede toe Salomo geheers het, met groot wysheid en groot projekte. Tog is daar faktore wat teen die gedagte van Salomo as die Prediker tel. So is die Hebreeus* van die boek veel jonger as die Hebreeus van Salomo se tyd. “Seun van Dawid” kon ook gebruik word bloot vir iemand uit Dawid se nageslag, nie net vir ’n direkte kind nie. In 1:16 praat die Prediker ook van almal wat voor hom in Jerusalem* regeer het, wat sekerlik meer as een koning (Dawid) impliseer. Ook die onreg waarvan die boek melding maak (bv 4:1) pas nie in die tyd van Salomo nie. Daarom is dit waarskynlik beter om die boek ná die Babiloniese ballingskap* te dateer, in die tyd van die Persiese Ryk* of daarna, met ’n onbekende skrywer.

Boodskap: In die tyd van die Prediker was daar baie dinge wat verkeerd was en hy het oor die lewe, oor alles wat gebeur en die sin daarvan, nagedink. Omdat die tyd van die Prediker onseker is, is dit ook nie seker vir wie hy die boek geskryf het nie. Tog is die boek van so ’n aard dat dit eintlik ’n tydlose boodskap het. Vir die verstaan van die boek is veral twee uitsprake aan die begin van die boek van belang. In 1:2 staan: “Alles kom tot niks, sê die Prediker, tot niks” (1983-Afrikaanse Vertaling). In die 1933/1953-Afrikaanse Vertaling staan dat alles tevergeefs is. Hiermee dui die Prediker op die sinloosheid of die tydelikheid van dinge wat gebeur. In 1:3 verwys hy na die mens se swaarkry “in hierdie wêreld”. Die 1933/1953-Vertaling het dit meer letterlik vertaal met “onder die son”. Hierin lê waarskynlik een van die sleutels vir die verstaan van die boek: Die Prediker gaan kyk hoe lyk ’n lewe in hierdie wêreld, horisontaal beoordeel, met God buite die prentjie gelaat. So ’n lewe is inderdaad te­vergeefs.

Struktuur: Die boek is nie sterk gestruktureerd nie. Breedweg handel hoofstuk 1–3 oor die uitdagings van werk en wysheid, hoofstuk 4–6 oor die voordeel van werk en wysheid, hoofstuk 7–10 oor die waarde van wysheid en hoofstuk 11–12 is ’n oproep tot die jeug om aan hulle Skepper te dink.

Samevatting: Die boek wil aandui dat ’n lewe onder die son, los van God, geen betekenis het nie. Sekere dinge het wel ’n tydelike voordeel, sodat wysheid beter is as dwaasheid. Sonder God het selfs wysheid egter geen blywende betekenis nie. Deur te wys op die sinloosheid van ’n lewe sonder God, wil die Prediker mense oproep om hulle lewe op God te rig. Hy ontken dus nie dat die regte lewe beloon word nie, maar hy het beswaar daarteen dat die beginsel van beloning gebruik word om uit dit wat ’n mens ervaar, af te lei hoe jy geleef het, asof net goddelose mense swaarkry beleef en gelowiges altyd net voorspoed. Die feit dat gelowiges soms swaarkry beleef, beteken egter nie dat hulle nie die lewe mag geniet nie. Dit is eintlik net gelowiges wat werklik die lewe kan geniet, maar hulle moet dit altyd doen met die besef van die kortstondigheid van die lewe. Genot is nooit die belangrikste nie, maar ’n lewe met God. ’n Mens kan die goeie geniet, maar dan altyd met die besef dat die goeie uit God se hand kom. Deur te wys op die gevolge van ’n lewe sonder God, beklemtoon die Prediker dieselfde boodskap as wat Paulus* in 1 Kor 15:58 stel, naamlik dat ’n mens se inspanning in diens van die Here nooit tevergeefs is nie.

Vir verdere lees: T Longman 1998. Book of Ecclesiastes. Grand Rapids: Eerdmans.

 

Sidebar