PREDIKING

 

PREDIKING. In aansluiting by Eugene Lowry se beeld in Dancing the edge of mystery, kan ons soos volg nadink oor die prediking.

  1. Ons kan die volgende drie “dansstyle” in die geskiedenis van die prediking onderskei. Die evangeliese styl. Die doel van dié soort prediking was om mense tot geloof* en bekering* te bring en het ’n sterk emosionele kant. Die liberale styl. Dié tipe pre­diking was nie soseer geïnteresseerd in die korrekte dogmatiese* geloofsuitsprake nie, maar lê klem op ’n spiritualiteit* wat mense kan help om die lewe te kan hanteer en om innerlike vrede* te vind. Die neo-ortodokse styl wat in die verduideliking van die Skrif en die betekenis daarvan vir ons lewe geïnteresseerd is. Dié vorm van prediking wou seker maak dat ons die wisselwerking tussen Skrif*teks en huidige konteks leer verstaan en wou gelowiges help om self die vermoë te ontwikkel om aan “die dans van die lewe” deel te neem.
  2. Daar is minstens vier perspektiewe wat ons kan help om ’n teologiese teorie vir die prediking te ontwikkel. ’n Teologiese perspektief fokus op die “grense van die misterie*” in ons prediking. Dit is om die onuitspreeklike te verwoord, om die misterievolle God wat die Bybel* aan ons openbaar, in mensewoorde te benoem (1 Kor 1:21). ’n Antroposentriese motief fokus op die prediker as mens, iemand van vlees en bloed in konkrete omstandighede van plek en tyd. Die prediker is iemand wat gered en geroep is om as hele mens met hoof, hart en hand aan die dans deel te neem. ’n Taalperspektief fokus op die “kultuur-linguistiese” aard van die dansgebeure. Al wat ons het om die misterie te verwoord, is taal: Bybelse taal en ons spreektaal met beelde, metafore*, gelykenisse*, verhale. Die prediker wat verbeeldingryk van dié middele gebruik maak, gee styl en smaak aan die lewensdans. ’n Hoordersperspektief fokus op die rol van die dansmaat en sy/haar konteks. Dit is die mens wat tussen angs en sekerheid met verskillende motiewe kom om aan die lewensdans deel te neem.
  3. Daar is vier basiese vaardighede waar­oor die prediker moet beskik om mense met die lewensdans te kan begelei. Kreatiewe vaardighede. Binne die Christelike geloof koppel ons kreatiwiteit aan die werk van die Heilige Gees* en aan die Christelike dissiplines. Hermeneutiese* vaardighede dui op die “kuns van verstaan” waarin die prediker die vermoë ontwikkel om krities, nadenkend en interpreterend met die Skrifteks, die oorspronklike konteks, die geskiedenis van interpretasie en die vertaling daarvan binne die hedendaag­se konteks, om te gaan. Kommuni­katiewe vaardighede het te maak met die manier waarop ons met mekaar praat. Nie net wát ons sê is belangrik nie, maar ook hóé ons dit sê. Liturgiese vaardighede verwys na die feit dat die preek ingebed is in die liturgie* van die erediens*. Die prediker is ook liturg, wat eie vaardighede vra.

Vir verdere lees: E Lowry 1997. The Sermon: Dancing the Edge of Mystery. Nashville: Abingdon Press.

Sidebar