PREMILLENNIALISME

PREMILLENNIALISME. Daar is twee vorms van Premillennialisme (wat vroeër ook Chiliasme genoem is): Historiese Pre­mil­lennialisme en Dispensasionele Premil­lennialisme. Beide aanvaar dat daar ’n Duisendjarige Vrederyk (Millennium*) sal wees, en dat Christus* vóór (pre-) die Mil­len­nium weer sal kom. Maar verder is daar belangrike verskille.

Historiese Premillennialisme aanvaar dat daar ’n aantal dinge moet gebeur voor Christus weer kom om die Millennium te stig: al die nasies moet die evangelie* hoor, die Antichris* moet verskyn wat die Groot Verdrukking sal lei, die Groot Afval moet plaasvind. Die kerk* sal deur die Groot Verdrukking gaan. By Christus se weder­koms* sal die gelowige dooies opstaan, en die lewende gelowiges verheerlik word. Satan* sal gebind word. Die Jode* sal tot bekering* kom, maar nie ’n aparte groep naas die gelowige nie-Jode vorm nie. Daar sal nog sonde* en dood* wees, maar Chris­tus sal die deurwerking van die sonde grootliks beperk. Naby die einde van die duisend jaar sal Satan weer losgelaat word. Hy sal die nasies monster teen die kinders van God, maar hy sal oorwin en in die poel van vuur gegooi word. Dan sal die ongelowiges opstaan, die oordeel plaas­vind, die ongelowiges hel* toe gestuur word, die aarde nuutgemaak word, en die gelowiges saam met God op die nuwe aarde woon. Dit beteken dat die Historiese Premillennialisme ’n taamlik ingewikkelde sisteem van dinge in die toekoms verwag.

Dispensasionele Premillenialisme is egter veel ingewikkelder, en daar is ook talle verskille onder die aanhangers van hierdie leer. Hierdie siening verskil ook baie van Historiese Premillennialisme. Hulle verwag eers ’n wegraping voor die wederkoms, en daarmee saam die opstan­ding van alle gelowiges behalwe die Ou-Testamentiese gelowiges wat eers ná die Groot Verdrukking sal opstaan. Die ongelo­wiges sal eers ná die Millennium opstaan. Hulle verwag dus eintlik drie opstandings.

Daar is egter ’n ingrypender verskil. Dis­pen­­sasionele Premillenialisme rus op twee pilare: die letterlike interpretasie van die profesieë, en die absolute skeiding van Israel* en die kerk*. Al die profesieë wat in die Ou Testament* vir Israel gemaak is, sal letterlik aan Israel vervul word. En dié wat nog nie vervul is nie, soos die nuwe verbond en hulle groot voorspoed en wêreld­regering, sal alles gedurende die Millen­nium vervul word. Die tweede pilaar is dat daar ’n wesenlike en permanente onderskeiding bly tussen Israel en die kerk. God se doel met die wêreld is die koninkryk van God wat Hy met Israel wil oprig. Die koms van hierdie koninkryk is tydelik onderbreek omdat Israel hulle Messias* verwerp het. Dit het “die tyd van die heidene” (Luk 21:24: 1983-Afrikaanse Vertaling; “tyd van die nasies” volgens die 2014-Direkte Vertaling)) ingebring, die tyd wat die kerk uit gelowige heidene en Jode gevorm sal word. Dit is egter ’n tydelike vertraging in God se primêre program met Israel wat nie in die Ou Testament voorsien is nie, en daarom is daar ook geen profesieë in die Ou Testa­ment wat op die kerk betrekking het nie. Die feit dat daar ’n kerk uit Jode en heidene gevorm is, is die groot misterie van Ef 3:6 wat nie in die Ou Testament bekend was nie. God se eintlike program, dié een met Israel, sal eers tydens die Millennium hervat word, wanneer die Jode wel hulle Messias sal aanvaar en die groot voorspoed sal ge­niet wat aan hulle beloof is wanneer Jesus* op die troon van Dawid* in Jerusalem* oor die hele wêreld sal regeer

Sidebar