PRESBITERIAAL-SINODALE STEL­SEL

PRESBITERIAAL-SINODALE STEL­SEL is ’n bepaalde kerkregtelike antwoord uit die tradisie op die vraag hoe die organi­sasie van die kerk* van Christus* daar moet uitsien. Die beginsel waarvandaan vertrek word, is dat die kerk die volk van God is en dat Jesus* Christus* self sy kerk deur Woord* en Gees* regeer. Op grond van veral sy Ordonnances Ecclésiastiques van 1561, kan Calvyn* as die vader van die presbiteriaal-sinodale kerkregstelsel be­stem­pel word. Ander duidelike koersaanwysers was die sinodes van Wesel (1568), Emden (1571) en Dordrecht (1618–1619). Anders as die kollegiale kerkreg* wat die inspraak van die staat* in die kerk* erken, oordeel die presbiteriaal-sinodale stelsel dat alleen die Skrif* normatief vir kerkrege­ring kan wees. Die vier pilare van hierdie kerkregstelsel is die 1. Amp*; 2. vergaderings van ampte; 3. godsdiensoefening en 4. kerklike dissipline. Nóg die amp nóg die vergaderings word afsonderlik verstaan – vandaar die koppelteken. Die drie ampte is herders (en leraars*), ouderlinge* en diakens* en is funksioneel en nie-hiërargies op te neem. Dit geld ook van die plaaslike, streeks- en nasionale vergaderings. Die liggaam van die kerk is dus nie net die plaaslike gemeente* nie, maar ook die geheel van ál die gemeentes. Die bevoegd­heid van elke vergadering word duidelik vasgelê.

Sidebar