PRESBITERIAANSE KERK

PRESBITERIAANSE KERK. Die presbiteriaanse tradisie vind sy vroegste wortels in Suid-Afrika in die vroeë fase van die Britse vestiging ná 1806, en veral sedert die koms van Skotse predikante* na Suid-Afrika sedert 1812. Een van hulle vroeë pioniers wat onder andere ook saam met die Skotse regiment gewerk het, was ds George Thom. Die Presbiteriaanse Kerk as ’n inherente deel van die gereformeerde* tradisie, stam primêr uit die Skotse Kerkhervorming (Kyk by: John Knox) en daarom is hulle ge­skiedenis en ontwikkeling in Suid-Afrika ook besonder nou verweef met die wel en wee van kerklike ontwikkelings in Skot­land. Baie van die sending*werk wat hier te lande aangepak is, is deur verskillende Skotse sendinggenootskappe soos die Glas­gow Missionary Society onderneem. In 1897 het veral die wit Suid-Afrikaanse presbiteriane saamgekom in die Presbyterian Church of South Africa (PCSA). Om spanning met die ring van Kaffraria (Free Church) te vermy, het die hoofsaaklik swart Bantu (later Reformed) Presbyterian Church of South Africa (BPCSA) tot stand gekom. Besondere werk is ook onder Afrikaans­sprekendes en Indiërs aangepak. Wat hulle kerklike bediening betref, is groot werk gedoen op die terrein van onderwys, op­heffing en uitreikaksies. In die laaste ge­deelte van die 20ste eeu het die verskillende presbiteriaanse kerke nader aan mekaar beweeg en die Uniting Presbyterian Churches of Southern Africa het vorm aangeneem.

Sidebar