PRIESTERHOOFDE / OWERPRIES­TERS

PRIESTERHOOFDE / OWERPRIES­TERS. Die owerpriesteramp was oorerflik onder die nasate van die priester*1 Sadok* (2 Sam 15:24-29). Voor die ballingskap* is die priesters deur ’n “eerste priester” gelei (2 Kon 25:18; Jes 52:24). Die benaming owerpriester (hakkohen haggÿdol) kom eers in tekste voor wat ná die ballingskap ontstaan het. Die eerste owerpriester ná die balling­skap was Josadak wat saam met die goe­weneur Sesbassar* opgetree het (1 Kron 6:14-15; Esra 5:14). Josadak se seun, Jesua (Hag 1:1), neem by hom oor en sorg onder andere dat die reinheidsrites* ter voorbereiding van die Groot Versoeningsdag* deurge­voer word.

Omdat Israel* ná die ballingskap geen monargie (Kyk by: Koning) gehad het nie, speel die owerpriester ’n belangrike rol. Toe die Makka­bese (Kyk by: Judas* Makkabeus) opstan­delinge in 152 vC die Griekse heerskappy oor Palestina* beëindig het, het hulle ook die priesteramp by Onias III afgeneem en so die Sadokietiese priesterskap beëindig. Uit priester-geledere ontstaan die Sadduseërs* toe as protesbeweging. Tot en met die ko­ningskap van Herodes*1 die Grote het telkens ’n nasaat van die Makkabeërs as owerpriester geregeer.

Herodes het die owerpriester ’n tyd lank uit minder bekende priestergeslagte gekies. Dit lei daartoe dat lede van verskillende families die amp vir ’n tyd beklee het. Daarom praat die Evangelie*-skrywers en ook die Joodse* historikus, Flavius Josefus*, van die priesterhoofde/owerpriesters in die meervoud. Die Nuwe Testament* noem Annas*, sy skoonseun, Josef Kajafas* (Joh 11:49; 18:13, 24), en Ananias* (Hand 24:1) as hoëpriesters. Die brief aan die Hebreërs* ontwikkel ’n Christologie* met Jesus* as die alle-priesters-oortreffende Hoëpriester*.

 

Sidebar