PRIESTERS

PRIESTERS is ’n term wat vir persone in Bybelse tye gebruik is en ook vir ampsdraers in die Katolieke* en Ortodokse* tradisies.

  1. In die half nomadiese tyd van Israel*, het die aartsvaders* self op heilige* plekke die offer*rituele gelei (Gen 12:8; 13:4, 18; 22:9, 13; 21:33; 26:24-25; 28:10-22). Priesters (van presbuteros, die oudste) het aanvanklik die funksie gehad om plaaslike heilige geboue en plekke te beskerm. Die familiehoofde kon later wel nog die offerdiere self slag, maar net die priesters kon op die altare* offer.

In Silo* het Eli* en sy nasate die tempels* beheer (1 Sam 1:3, 24; 21:12-17), in Nob Agimelek* (1 Sam 21:1; 22:9). Priesters was ook die spesialiste om uit te lê wat die orakel voorspel (Deut 33:8; Rig 18:5; 1 Sam 14:36-46). As ’n soort waarsêer begelei die priester Abatjar* vir Dawid* (1 Sam 23:2,9-12; 30:7-8). In Jerusalem* word hy en Sadok* priesters aan Dawid se hof (2 Sam 8:17; 15:24-29; 20:25). Sadok salf Salomo* tot koning* (1 Kon 1:38-48;) en sy afstammelinge beheer later Salomo se nuwe tempel in Jerusalem* (Eseg 44:14; 48:11). Nadat Josia* (2 Kon 23; Deut 17:8-13) offerrituele tot die gesuiwerde tempel in Jerusalem beperk het, word die geslag van Sadok die belangrikste priesterlike dinastie. Hulle word later selfs tot nasate van Aäron* gereken.

Daar is hoë eise aan priesters gestel. Priesters mag net met sekere vroue trou (Lev 21:7-8), mag nie liggaamlik gestremd wees nie (Lev 21:5,16-21), en moes hulleself ritueel was (Eks 30:17-21; 40:30-32) en rein* hou (Lev 21:1-4). Hulle het spesiale klere gedra (Eks 38–39) wanneer hulle rituele pligte in die tempel uitvoer (Lev 24:1-8). Priesters was in die besonder verantwoordelik vir die offers (Lev 1–3; 16:12), maar onderrig ook die bevolking in heiligheids-, reinheids- (Eseg 44:23; Hag 2:11-13) en etiese reg (Jer 18:18; kyk kritiek in Miga 3:11). Hulle het as regters* in regsake opgetree (Deut 17:8-13) en wetsonderrig aan die volk gegee. Hiervoor word besondere skrifgeleerdes* opgelei. Die priesters se onderhoud kom van ’n deel van offergawes wat hulle vir hulleself kon hou. Hulle ampsdrag is ook aan hulle verskaf. Ná die terugkeer uit die ballingskap* behou Sakod se geslag die mag (Neh 11:11), omdat hulle die hoëpriesteramp in die hande hou en die Leviete* onder hulle laat werk.

Toe die Makkabese rebelle die hoëpries­terskap oorgeneem het, het die Sadokitiese priesters hulleself as die Sadduseërs* georganiseer. In teenstelling met die Fariseërs*, was hulle teen die mondelinge oorlewering gekant en het nie aan die opstanding* uit die dood geglo nie. Herodes*1 die Grote vat die amp en die ampsdrag van die hoëpriester van die nasate van die Makkabeërs weg (Josefus: Joodse Oudhede 15, 53-56). Hy depolitiseer die amp en dra dit vir eers oor aan Ananel uit die geslag van Sadok. Tydens sy regeringstyd stel Herodes egter verskeie hoëpriesters uit verskillende dinastieë vir korter tye aan, sodat die priesterfamilies van hom afhanklik bly (Kyk by: Priester­hoofde). Van 6 nC volg die Romeinse prefekte en prokurators (Kyk by: Romeinse Ryk) sy praktyk. Met die vernietiging van die tempel deur die Romeine in 70 nC, begin die mag van die priesterfamilies vinnig te taan. (Kyk ook: Leviete en priesters.)

 

Sidebar