PRINSLOO, WILLEM STERRENBERG (RIEMPIES)

PRINSLOO, WILLEM STERRENBERG (RIEMPIES) (1944–1997) studeer ná sy skoolloopbaan aan die Universiteit van Pretoria. Nadat hy BA en BD met lof behaal het, promoveer hy in 1976, met AH van Zyl* as promotor, oor die onderwerp: Jahwe die Vrymagtige in die Ou Testament.

Nadat Prinsloo van 1971 tot 1974 in Standerton NG Kerk*-predikant* was, word hy in 1975 as senior lektor in Bybelkunde aan die Universiteit van Pretoria aangestel. Metter­tyd word hy professor in Ou-Testamentiese* teologie* en eksegese* en van 1989–1996 was hy dekaan van die Fakulteit Teo­logie.

Dit is veral as studieleier wat Prinsloo ’n blywende nalatenskap bewerkstellig het. Byna 50 BD-skripsies en 17 doktorale proefskrifte het binne twee dekades onder sy leiding vorm aangeneem en sewe van sy oudstudente het professore aan Suid-Afrikaanse universiteite geword. Sy akademiese statuur word weerspieël in die toekenning van die Humboldtstipendium vir postdoktorale navorsing in Duitsland en die Totiusprys* vir Teologie deur die Suid-Afrikaanse Akade­mie vir Wetenskap en Kuns. Binne sy vakgebied, Ou-Testamentiese studies, dien hy aanvanklik as sekretaris van die Ou-Testamentiese Werkgemeenskap van Suid-Afrika (1982–1992) en later as voorsitter (1992–1997).

Prinsloo se konsekwente klem op die Hebreeuse* teks van die Ou Testament en sy ononderhandelbare hoë akademiese standaarde het ’n onuitwisbare indruk op ’n hele geslag teologiese studente gelaat. Sy toespitsing op teksimmanente eksegese het neerslag gevind in talle populêre en vakwetenskaplike publikasies oor Psalms* waarin daar met die vinger op die teks teologies oor die Bybel* nagedink is. Hy is in 1997 aan selfdood oorlede.

 

Sidebar