PRIVAATBESIT

PRIVAATBESIT. Christene moet deurlopend besluite neem oor hoe hulle die gebod tot naasteliefde* gaan nakom ten opsigte van die gebruik en verspreiding van hulle besittings. Die kern van die Christe­like denke hieroor is dat alle besittings deur God aan die mens gegee word en dat dit in belang van alle mense aangewend moet word.

In die Ou Testament* word geleer dat grond aan God behoort. Die mens is maar net die bestuurder daarvan. Legitieme besit van eiendom is deur die dekaloog* be­skerm, terwyl die tora* minderbevoorregtes en swakkes beskerm het. Die profete* het die uitbuiting van armes en die oormatige konsentrasie van rykdom in die hande van rykes, afgewys (bv Amos).

In die Nuwe Testament* beklemtoon Christus* die belangrikheid van God se koninkryk*. Hy leer dat rykdom ’n struikelblok op die weg na hierdie koninkryk kan wees (bv Luk 18:25). Alhoewel Hy nie privaatbesit verdoem nie, het Hy geleer dat besittings tot voordeel van almal wat in nood is, aangewend moet word.

In die tyd van die kerkvaders* was privaatbesit nie werklik ’n kwessie nie. Som­mige het dit verwerp en vir ’n klooster*lewe gekies, terwyl die kerk* ryk lidmate aanvaar het solank hulle arm mense gehelp het.

Vandag is daar ’n sterk gevoel vir ekono­miese geregtigheid (Kyk ook: Ekonomiese ongelykheid en: Ekonomiese verantwoor­delikheid). Alhoewel privaatbesit nie afge­wys word nie, word ’n billike verdeling van rykdom en inkomste bepleit. Privaat­besit moet respek hê vir die waar­digheid van werkers en vir die welstand van mense in die algemeen. Gepaard met die vryheid tot privaatbesit, word uit Christelike per­s­pektief gewys op definitiewe sosiale verplig­tings. Werkers het ook die reg om vakbonde te stig en daaraan te behoort, om deel te hê aan die besit en bestuur van ’n onderneming, en om billike vergoeding te ontvang.

Van die kerk kan verwag word om ’n voorkeur vir die armes te hê, maar die kerk mag nooit uitsluitlik vir hulle kies nie. (Kyk ook: Grondhervorming.)

Vir verdere lees: J Macquarrie en J Childress 1990. A New Dictionary of Christ­ian Ethics. Londen: SCM.

Sidebar