PROFEET

PROFEET dui op ’n geïnspireerde geroe­pene van die Here* met ’n besondere boodskap van God. Kenmerkend van Bybelse profete is dat hulle optree met die formule: “So het die Here gespreek”, en dikwels nie formele opleiding gehad het nie. Profete is bekende figure regdeur die Bybel*, en het breedweg in drie tydperke opgetree.

In die voor-ballingskap-periode was die profete se boodskap merendeels gerig teen godsdienstige afvalligheid en morele verval. Profete was daarom nie baie geliefd onder die maghebbers van hulle tyd nie.

Ná die ballingskap het die profete troos, nuwe hoop en visie gebring toe ’n verwoeste land opgebou moes word. Toe is daar vergesigte geopen oor die uiteindelike toekoms van die volk van God. Profete was egter nie kru “toekomsvoorspellers” nie. Hulle het eerder die toekoms help vorm deur te wys op God se trou en die volk op te roep tot getrouheid aan God.

In die Nuwe Testament* tree profete in ’n mate terug ten gunste van die apostels*. Nogtans is daar oorvloedige getuienis van profetiese werksaamheid in die Christelike gemeentes* (bv 1 Kor 12:10, 28; Ef 4:11). ’n Belangrike oorgangsfiguur is Johan­nes die Doper*. Hy tree in tipiese Ou-Testamentiese tradisie op deur mense op te roep tot bekering*, maar berei terselfdertyd so die weg voor vir Jesus* se koms.

Die Nuwe-Testamentiese profete het met gesag opgetree en is deur die gemeentes erken, maar was nie ’n aparte groep naas die gemeente nie en kon verwag om getoets te word en kritiese reaksie te kry (vgl Matt 7:15; 24:11). Die groot taak van die Nuwe-Testamentiese profete was waarskynlik om uitsprake van Jesus te aktualiseer vir die gemeentes. Hulle verteen­woordig dus Jesus se voortgaande stem. Be­langrik is egter dat hierdie openbarende karakter van die profete se werk nie los ge­staan het van die outentieke apostoliese* tradisie nie. Tradisie* en openbaring* staan nie teenoor mekaar nie. Gelowiges is ook deur Heilige Gees* gesalf tot profeet. (Kyk ook: Vals profesie en: Profesie.)

 

Sidebar