PROFESIE

PROFESIE. Bybelse profesie kan omskryf word as historiesverwante uitsprake deur ’n profeet*/profetes op bevel van God gerig op Israel*/die nasies en gegrond op die ver­bond*. Ander kanale van die Godsopen­baring sluit in: uitsprake tydens ekstase, aangewakker deur musiekspel en kasty­ding, ook drome, voortekens, gelykenisse*, allegorieë* en simboliese handelinge. Die Ou Testament* gebruik hoofsaaklik drie terme om profete aan te dui: ro’eh (“sie­ner”), hozeh (óók “siener”) en nabi’ (“profeet”), skynbaar sonder onderskeid in betekenis (1 Kron 29:29). Sommige beweer dat sg profete-skole óm die profete ontstaan het met die oog op toekoms­tige betrokkenheid in die profetiese amp.

Die opdrag van God het skynbaar soms teenstrydig en misleidend voorgekom (1 Kon 22:1-40; Eseg 14:9). ’n Ware profeet kon by geleentheid ’n vals profeet word (1 Kon 13), óf omgekeerd (Joh 11:51; 18:13-14). Norme is aangelê om enersyds ware of vals woorde en andersyds die integriteit of afwesigheid daarvan by profete te onderskei. Ander beweer dat vals profete/opponente van Jesaja* en Jeremia* gewoon lg se uitsprake in die lig van hulle eie beweerde roeping en die wet* beoordeel het. Die woorde “vals pro­fe(e)t(e)” verskyn nie in die Hebreeuse* teks nie, maar wel in die Septuaginta* (Grieks*) in Jer 6:13; 26:7, 8, 11, 16; 27:9; 28:1; 29:1, 8. Verwysings na vals profete kan egter uit die verband opgemaak word (Sag 13:1-6).

Gedurende die koningsperiode is profete veral geraadpleeg oor strategiese aanvalsmoontlikhede. Klassieke profesie (onge­veer 800–500 vC) bevat uitsprake wat veral handel oor God se Woord uitgedruk in simbole, verkiesing en verbond*, opstand, oor­deel, lyding, verlossing en voltrekking deur die Dienaar van die Here*. Hierdie profete is geroep, het soms in ’n amp gedien, die toekoms aangekondig (einde, omkeer en nuwe eeu), hulle tydgenote gekasty en teenstand ondervind, maar soms verward geraak en gely.

Profesie was ’n algemene verskynsel in die Ou Nabye Ooste. Die beoefening daarvan in Israel het ooreengekom met én verskil van dié van hulle eweknieë. Verskille sluit in: die lengte en etiese inhoud van bood­skappe, die profete se onafhanklik­heid van, en gereelde verset téén konings, gemeenskapsleiers, en diegene wat onreg pleeg. Sommige profete het in ’n formele verhouding tot die kultus gestaan. Ander het ’n los band daarmee gehandhaaf. Hulle het wel aan byeenkomste deelgeneem, maar sterk kritiek uitgespreek teen diegene wat deur die rituele passies beweeg én tog onreg pleeg.

Profesieë het twee tydsdimensies inge­sluit: die teenswoordige en die toekomstige. Uitsprake oor die eietydse situasie het voorrang geniet. Profesieë oor die toekoms het gedien as verlengstuk van sake wat Israel en die nasies in die toekoms sou raak (eskatologie*-apokaliptiek*). Sake word nie spesifiek omskryf nie, maar simbole en meta­fore* word ingespan om tendense te beskryf en die algemene koers van gebeure aan te dui.

Profesie in die Nuwe Testament* sluit by die Ou Testament aan, maar beweeg miskien meer op die eskatologies-apokaliptiese vlak. Jesus* Christus* word as die groot Profeet aangekondig, maar Hy is ook méér as ’n profeet. (Kyk ook: Waarsêery en: Vals profesie, asook: Profeet.)

Vir verdere lees: DN Freedman (hoofred) 1992. Anchor Bible Dictionary. New York: Doubleday. JD Douglas 1998. Illustrated Bible Dictionary. Leicester: IVP. GA Buttrick 1962. Interpreter’s Dictionary of the Bible. Nashville: Abingdon Press. MC Tenney 1975. Zondervan Pictorial Encyclopedia of the Bible. Grand Rapids: Zondervan.

 

Sidebar