PROSELITISME

PROSELITISME. In sy oorspronklike vorm het dié woord verwys na mense wat hulle uit die nie-Jodedom (“heidendom”) tot die Jode*dom bekeer het. In die Nuwe Testament* is daar spesifieke verwysings na mense wat hulle tot die Jodedom bekeer het. Met verloop van tyd is na alle pogings in alle godsdienste om mense na die eie godsdiens oor te haal, as proselitisme verwys. In die Christendom* is daar probeer om ’n onderskeid te maak tussen proseli­tisme en evangelisasie*. Die kwessie van proselitisme verskil van godsdiens* tot godsdiens. In die Jodedom, bv, is daar geen spesifieke optrede wat daarop gemik is om ander mense tot die Jodedom oor te haal nie, alhoewel bekeerlinge ontvang word. In die Hindoeïsme is proselitisme afwesig, omdat dié godsdiens pluralisties van aard is en dus alternatiewe godsdiens­tige praktyke aanvaar. Daar is juridiese sowel as morele argumente teen proseli­tisme aan te voer, wat daarop neerkom dat niemand gedwing behoort te word om ’n ander godsdiens of kerk* aan te neem nie. Op grond hiervan is proselitisme bv in lande soos Griekeland en Marokko verbode. Die belangstelling vir die proseli­tisme is in die jongste tyd veral weer gewek deur die reaksie van die Russies-Ortodokse Kerk* teen wat gesien word as die onwettige proselietmakery van die Katolieke Kerk*. (Kyk ook: Proseliet.)

Sidebar