PROSESTEOLOGIE

PROSESTEOLOGIE. Dié begrip verwys gewoonlik na eietydse teologiese* denkmodelle wat direk gebaseer is op die prosesfilosofie van Alfred North Whitehead (1861–1947) en Charles Hartshorne (1897–2001). In alle vorms van prosesteologie neem die evolusionêre aard van die ge­skiedenis, die natuur, en ook van die menslike persoon ’n sentrale plek in. Trouens, in prosesteologie word God self gesien as in ’n ontwikkelingsproses, bemiddel deur God se indirekte, maar onophou­delike betrokkenheid by ’n altyd veranderende wêreld. Die oorsprong van prosesdenke gryp regstreeks terug op Whitehead se befaamde 1928/1929-Gifford-lesings, Pro­cess and Reality. As ’n spesifiek-teologiese denkbeweging, vind ons die oorsprong van prosesteologie gedurende die 1920’s en 1930’s aan die Universiteit van Chicago in die VSA. Die beweging het vinnig veld gewen en is vandag steeds ’n belangrike komponent van verskillende Christelike teologieë. Invloedryke prosesteoloë soos Shubert Ogden en John Cobb is verant­woordelik vir ’n nuwe geslag prosesteologieë met interessante interdissiplinêre en feministiese (Kyk by: Feminisme) dimensies. Alle vorms van prose­s­teologie verwerp statiese, metafisiese idees van God en fokus op God se liefde en direkte betrokkenheid by die geskiedenis, In dié sin kan prosesteologie beslis as “teïsties” (Kyk by: Teisme) gesien word, alhoewel enige oormatige fokus op God se almag en voorsienigheid verwerp word ten gunste van God se indirekte, tentatiewe optrede in die geskiedenis.

 

Sidebar