PROTESTANTISME

PROTESTANTISME. Die naam Prote­stan­tisme is afgelei van die naam “protestant”, wat ’n spesifieke historiese betekenis het. Op die Ryksdag (parlementsitting) van Worms, 1521, is die Edik van Worms uitgevaardig ingevolge waarvan die ryksban oor die kerkhervormer Martin Luther* en sy aanhangers uitgespreek en die verbran­ding van al hulle boeke beveel is. Die direkte aanleiding tot die Edik van Worms was die weiering van Luther om alles wat hy teen die Katolieke Kerk* geskryf het, terug te trek. Op die Ryksdag van Spiers, 1526, is besluit dat die Edik van Worms so toegepas moet word dat die owerhede hulle voor God en die keiser sou kon verantwoord. Die gevolg van hierdie besluit was dat die Lutherse landskerke hulleself kon orga­niseer en die Reformasie (Kerkhervorming; Hervorming*) in talle state gevestig kon raak. Die Ryksdag van Spiers van 1529 het egter die besluit van 1526 herroep en besluit om die Edik van Worms uit te voer. Die evangeliesgesindes het daarop ’n protes ingedien teen hierdie voorgenome vernietiging van die Reformasie. Vandaar die naam “Protestante”. Protestantisme sien dus histories nie in die eerste plek op ’n protes teen die Katolieke leer en diens nie, maar op die feit dat dit ’n protes was teen die pogings om die leer van die Hervor­ming te onderdruk.

Mettertyd het die naam Protestantisme wel sinoniem geword met Hervorming as aanduiding van die beweging wat hom teen die Katolisisme verset het. Met verloop van tyd het dit egter so ’n vae en algemene betekenis gekry dat sommige dit nie as ’n geskikte benaming sien om die beginsel en karakter van die Reformasie te omskryf nie. Daar moet verder onderskei word tussen bv die Duitse, Skotse, Engelse en Franse Protestantisme.

Onder invloed van die Deïsme* en die Aufklärung* (Verligting) het daar teologies ’n radikale omkeer plaasgevind sodat denkers soos Dilthey en Troeltsch begin praat van ’n “nuwe Protestantisme”, wat prin­si­pieel verskil van die Reformasie deurdat dit nie uitgaan van die Heilige Skrif* nie, maar van die abstrakte rede.

Die naam Protestantisme kan dus vandag verskillend verstaan word. Daar is die standpunt dat die “moderne Prote­stantisme” die Woord* losgelaat het en min van die gesag van die Woord wil weet, maar die outonomie van die mens, ook op die gebied van geloof* en lewe, beklemtoon. Die “behoudende” Protestantisme (gerefor­meerdes*, konfessioneles, ens) wil daarenteen nog vashou aan die tweërlei beginsel van die Reformasie, naamlik die gesag van die Woord en die regverdig­making* deur die geloof*.

Sidebar