PSALMS (BYBELBOEK)

PSALMS (BYBELBOEK) is ’n gestruktureerde bloemlesing van 150 geloofserva­rings. Die Griekse* opskrif van die Septua­ginta* Psalmoi dui op “snaarbegeleide liedere”, terwyl die Hebreeuse* opskrif Tehillim “lofliedere” beteken. Die meeste psalms is gebede en klaagliedere, maar in sy finale vorm bied die Psalmboek homself as “lofliedere” aan. Geen ander Bybel*boek re­flek­teer die rykdom van klassieke He­breeuse poësie, met parallelismes*, herha­ling, rym, chiasmes, akrostigons (Kyk by: Akrostiek), inklusio’s en strofebou soos Psalms nie.

Ontstaansgeskiedenis: ’n Ingewikkelde ontstaansgeskiedenis maak die datering van indiwiduele en groepe psalms uiters moeilik. Aanduidings uit tye vóór, tydens en ná die Babiloniese ballingskap* kom partykeer in ’n psalm voor. Dit beteken dat gebede, gedigte of liedere herhaaldelik gelees, geherinterpreteer en in daaropvolgende tye/omstan­dighede aangepas is (let bv op byna identiese psalms: 14 = 53; 40 = 70). Verskillende ervarings het so in een psalm ingegroei. Dieselfde het met groepe psalms gebeur (113–118). Daarom dateer ’n psalm soms uit meer as een tydperk.

Psalms hou verband met die konkrete lewe. Hulle verwoord pyn, vreugde, woede, haat, liefde, vertroue, dankbaarheid, wraak, lewenswysheid, onreg, onskuld en talle meer. Hieruit het groepe psalms ontwikkel, wat later in die kultus* en by godsdiensfeeste as liedere, gebede en liturgiese (Kyk by: Liturgie) rituele* gebruik is. In die tyd van die tweede tempel*3 (vanaf 515 vC) het aanbidders psalms begin sing.

Tempelgroepe soos die Koragiete* (42–49) en Asafiete* (50; 73–83) het versame­lings vir tempelgebruik bymekaar gemaak. Groter versamelings soos die Elohistiese psalms (42–83 – met God se Naam as Elohîm) in Israel*4, en die Dawidiese psalms (3–41) in Juda*4, het ontwikkel. Ander be­kende versamelings is die Jahwe*-Konings­liedere (93–99), Pelgrimsliedere of Bede­vaartsliedere (120–134) en Halleluja*-liedere (111–118; 146–150). Psalm 1–2 dien as tema­tiese inleiding tot die hele Psalmboek.

Die huidige vorm van die Psalmboek het onge­veer 200 vC tot stand gekom. ’n Finale redakteur/redaksie het die boek in vyf dele met ’n lofprysingsformule aan die einde van elkeen ingedeel (1–41; 42–72; 73–89; 90–106; 107–150). Daarmee het die Psalm­bundel, net soos die Pentateug*, in die ná-ballingskapstyd ’n wetskarakter verkry. Die boek het ’n leesteks geword wat aanbidders ook kon mediteer.

Opskrifte was nooit oorspronklik deel van ’n psalm nie. Saam met tegniese (b­v “sela*”) en musikale terminologie (bv “Vir die koorleier”) is hulle later bygevoeg. Soms het dit ’n soort psalm (lied, gebed, lied by snaarinstrument, kuns­lied), die liturgiese geleentheid waartydens dit gebruik is (30: tempelinwyding; 38: by reukoffer; 92: sabbat), of musikale aandui­ding (8: met gettit-begeleiding) weergegee. Ander kere verbind opskrifte tekste aan historiese geleenthede (3; 7; 51) of persone (Dawid*, Salomo*, Moses*, en andere). Opskrifte dui egter nie die skrywer van ’n psalm aan nie.

Soos Moses* aan die Pentateug verbind is, kry Psalms ’n Dawidiese identiteit. Dawid is as harpspeler, digter, sanger en vestiger van die Israelitiese kultus beskou (1 Sam 16:23; 1 Kron 16:7 en volgende verse; 25:1 en volgende verse). Die opskrif le david (van Dawid) by 73 psalms het verskeie betekenismoontlikhede: “vir Dawid”, “van Dawid”, “oor Dawid” en “behoort aan ’n Dawids­versameling”. Dawid word daarmee nie as outeur aangedui nie. Hyself leef in die tyd vóór die tempel. Talle psalmtekste dateer uit ’n vóór-Dawidiese tyd. Dawid se verbondenheid aan die “vyf boeke” van die Psalms bevestig sy beeld as godsdienstige en ideaal-tipiese kultusleier van Israel.

Soorte psalms: Na vorm en inhoud kan die psalms in soorte ingedeel word. Dit is nie waterdigte kategorieë nie, maar hulpmiddels om die psalms se funksie en betekenis beter te verstaan. Dit sluit in: klaaglied van ’n enkeling (7; 38), danklied van ’n enkeling (30; 116), klaaglied van die volk (44; 74), danklied van die volk (66–67), himne of loflied (100; 136), Jahwe-Koningsliedere (47; 93), Sions*liedere (48; 84), Koningspsalms (72; 110), didaktiese wys­heids­liedere (37; 73), vertrouensliedere (16; 23), wetspsalms (1; 119), vernietigingswense (109; 137) en skeppingspsalms (19; 104). Daar is ook mengvorms wat die bg soorte in een psalm saamvoeg (89).

Elke soort psalm bestaan uit elemente, wat soms van mekaar verskil of met mekaar oorvleuel. Byvoorbeeld, ’n himne/loflied (146) vertoon normaalweg ’n drie­deling. Bidders word opgeroep om God te loof (“halleluja”); dan verskaf die lied redes waarom God geloof moet word; ten slotte word bidders weer tot God se lof opgeroep. Die basiese elemente van ’n klaaglied (13) is die volgende: Uit nood roep iemand God by die Naam aan; dan beskryf die noodlydende die nood – waarom-vrae oor siekte, vyand, sonde, katastrofe; die psalmis doen dan ’n gebed om verlossing; ’n belydenis van vertroue volg hierop; die lied eindig met himniese elemente waarin die bidder God loof. Vormelemente van die danklied (116) sluit ’n dankberig, belofte oor ’n offer en lofprysings in. In onderskeid tot die loflied het ’n danklied ’n dubbele spreekrigting. Die dankbare psalmis praat enersyds met God en andersyds met die kultusgemeente.

Uit Psalms het nie alleen die Israelitiese godsdiensgemeenskap asemgehaal nie, maar dit was ook vir die Joodse sinagoge* en Christelike kerk* een van die belang­rikste Bybelboeke. Luther* noem dit ’n “miniatuur Bybel”. Binne die Ou Testa­ment* het Psalms tematiese verbindings­lyne met die wet*, profete* en geskrifte*. ’n Verskeidenheid teologieë van die Ou Testament kom in die verskillende psalms se velerlei Godsbeelde na vore wanneer digters God onder andere beskryf as Lig, Rots, Skild, Burg, Herder, Koning, Regter, Vader, Moeder, Skepper, Voorsiener en Redder.

Psalms is die mees-aangehaalde Ou-Testamentiese boek in die Nuwe Testa­ment*. Vir die Nuwe Testament se skrywers was dit ’n gesaghebbende geskrif (Luk 24:44). Aspekte van sommige psalms word op Jesus* Christus* betrek. Dit beteken egter nie dat psalmskrywers Jesus Christus voorspel het nie, maar terugskouend herinterpreteer die Nuwe-Testamentiese skrywers bepaalde psalms om God se werk in Jesus te bevestig en te aktualiseer (Hand 13:33; Heb 1; 7). Jesus haal psalmtekste tydens sy lyding (22) en aan die kruis (31) aan.

Die musiek- en liturgiegeskiedenis van talle Christelike en Joodse geloofstradisies bevestig dat die Psalmboek mense deur die eeue geïnspireer het om hierdie boek se geloofs­ervarings na te sing, te bid, te mediteer of in rituele te gebruik. Ontelbare musikale verwerkings en herinterpretasies van komponiste staan in die tradisie van psalms. Vir die Christelike kerk speel psalms ’n belang­rike rol in die liturgie*, kategese* en pastoraat*.

Sidebar