PURIMFEES

PURIMFEES is ’n Joodse fees* wat die gebeure in die boek Ester* herdenk. Purim is die meervoud van pur, die lot wat Haman* gewerp het om ’n geskikte datum te vind waarop die Jode* in die koninkryk van die Mediërs en Perse* uitgewis sou word (Ester 3:7). Dit het egter nie gebeur nie, danksy die tussenkoms van die Jood Mordegai* en sy niggie Ester*, een van ko­ning Ahasveros* se vroue. Sedertdien word die Purimfees op 14-15 van die Joodse maand Adar* gevier, om God te dank vir sy destydse ingrype, en ook vir die talle ander kere wat heersers of regerings misluk het om die Joodse volk uit te wis (bv deur Hitler* se “Finale oplossing” of die “Holocaust”). Die Purimfees is ’n vrolike fees, baie gewild onder kinders. Dit gaan vandag dikwels gepaard met kostuumparades en dogters wat soos Ester aantrek. In die sinagoge* word die boek Ester, geskryf op ’n spesiale boekrol, ’n megilla, voorgelees. Wanneer die naam van die skurk in die verhaal, Haman, genoem word, word ’n groot geraas gemaak sodat die naam van dié aartsskurk nie gehoor sal word nie.

 

Sidebar