PURITANISME

PURITANISME word afgelei van puritas (suiwerheid) en dui in die algemeen op ’n strewe na godsdienstige suiwerheid, maar in die besonder op ’n Skots-Engelse bewe­ging in die 16de eeu. Teenoor die pogings om ’n episkopaalse* kerkorde te vestig in die Kerk van Engeland, propageer hulle, veral in aansluiting by Calvyn* en ander Kerkhervormers, die presbiteriale* stelsel, met groot klem op die Bybel* en ’n sober kerk- en leefstyl. Hulle hervorming stuit op fel weerstand, vervolging, afsettings en wette waartydens ongeveer 20 000 mense die land verlaat, onder andere die pelgrimvaders na Noord-Amerika. Die beweging word toenemend gerig op ’n vroom Christelike lewe (“pure life”) met die klem op verbond*, bekering*, tug*, Sondaghei­liging, huisgodsdiens*, morele integriteit en mettertyd ook Christelike mistiek* (onder andere John Bunyan*). Nadat die vervolging ná ’n eeu van stryd met die Act of Tolerance (1689) beëindig is, het die bewe­ging invloed begin verloor aan die Meto­disme* wat bepaalde ooreenstemmings daarmee vertoon. Nietemin bly dit histories ’n belangrike beweging wat deur waarnemers gesien word as beslissend in die vor­ming van die moderne wêreld, as die bron van politieke, etiese en sosiale ideale van veral die Amerikaners, en as die fondament van ’n breë Protestantse* spiritualiteit* wat in baie kerke sigbaar sou word.

 

Sidebar