PURITEINE

PURITEINE (van “purity” = skoon, rein) is ’n sambreelterm vir ’n verskeidenheid radikale Engelse Protestantse groepe van die 16de eeuse Reformasie (Hervorming*) wat oor die algemeen fundamentalisties* was. Hierdie woord is in die 16de eeu as ’n skeldnaam gebruik vir groepe mense wat ontevrede was met die rigting wat die Church of England* (Anglikaanse Kerk*) ingeslaan het, en hulle beywer het vir godsdienstige, morele en maatskaplike reformasie. Die Britse burgeroorlog was juis tussen die puriteine onder leiding van Oliver Crom­well* en troepe wat lojaal aan die konings­huis was. Vanweë die vervolging van die kerk en die heksejag wat daarmee gepaard gegaan het, het verskeie puriteinse groepe in 1558 na Amerika uitgewyk waar hulle hulle hoofsaaklik in die omgewing van New England gevestig het. Hulle het groot klem op die uitverkiesing* en die duiwel* geplaas (“die duiwel staan agter elke bose daad”). Hulle het sterk teen wêreldgelykvormigheid gewaarsku en drama en musiek is nie in hulle eredienste toegelaat nie. Die puriteine het die eerste kinderboeke gepubliseer. Aangesien ’n rein lewenstyl vir hulle van die opperste belang was, het hulle nie juis aandag aan syfer- en skryfwerk gegee nie, maar dit was tog vir hulle belangrik dat kinders goed moes kon lees. Bunyan* se Pelgrim se reis is een van die puriteinse werke wat groot bekendheid verwerf het.

Die puriteinse komponent het in Enge­land bly voortbestaan en het groot invloed uitgeoefen – veral in die ekonomie, en hulle het selfs in ’n stadium ’n meerderheid in die parlement gehad. Koning James I van Engeland het die puriteine as ’n wesenlike gevaar vir die Anglikaanse Kerk beskou. Sy magtiging van die King James-vertaling van die Bybel*, was juis ’n poging om die Anglikaanse ortodoksie te bestendig teen die puriteine wat eerder die Geneefse vertaling gebruik het.

Gedurende die 3de eeu was daar ’n groep militante ketters wat ook as “puri­teine” beskryf is.

Sidebar