QUMRAN

QUMRAN is die naam van ’n droë rivierloop (wadi) en die ou ruïne langsaan. Die ruïne is geleë aan die noordwestekant van die Dooie See, suid van Jerigo*. Die plek het be­kendheid verwerf omdat die Dooie See-rolle* in die omgewing gevind is. In totaal is die oorblyfsels van ongeveer 900 manuskripte ge­vind. Die rolle was waarskynlik afkomstig uit die biblioteek van die gemeenskap wat in Qumran geleef het in die tyd van die Nuwe Testament* en is die belangrikste nalatenskap van dié gemeenskap. Tussen die ruïne en die Dooie See is ook ’n begraafplaas waar meer as 1 000 persone begrawe is. Ná die eerste vonds van rolle in een van die grotte naby Qumran is opgrawings gedurende 1951–1956 gedoen, en weer verskeie kere daarna. Die plek is waarskynlik bewoon van vroeg in die eerste eeu vC. Teen ongeveer 31 vC is dit deur ’n aardbewing verwoes, maar die inwoners het daar bly woon. Die plek het bly bestaan totdat dit deur die Romeine* verwoes is tydens die eerste Joodse* revolusie – ongeveer in dieselfde tyd as die inname van Massada, teen ongeveer 73 nC.

Die hoofgebou van Qumran was ongeveer 30 x 37 m groot tydens die eerste bewoning in die eerste eeu vC. ’n Toring van twee verdie­pings was in die noordwestelike hoek van die gebou. Hierdie gebou is deur ’n aardbewing in 31 vC verwoes en daarna weer herbou.

Tydens die herbouing is die toring versterk. Die grootste vertrek was 22 x 4,5 m groot en was waarskynlik die vergadersaal van die ge­meenskap.

Alhoewel alle geleerdes nie daarmee saamstem nie, word redelik algemeen aanvaar dat die gemeenskap wat in die tyd van die Nuwe Testament* in Qumran gewoon het, Esseners was, een van die Joodse sektes of groepe wat in die tyd van die Nuwe Testament belangrik was. (Die ander was die Fariseërs* en die Sadduseërs*, wat goed bekend is uit die Nuwe Testament.) Miskien was Qumran die hoofkwartier van die Esseners, met volgelinge van die groep versprei oor die land. Die inwoners van Qumran het hulle van die ander Jode* afgesonder, moontlik uit reaksie teen sekere verkeerde praktyke in die tempel* gedurende die tyd van die Makkabeërs*. Lidmaatskap kon eers ná ’n lang proeftydperk verkry word. Hulle leefwyse was sterk asketies (Kyk by: Askese), met groot klem op rituele reinheid*. Die rituele baddens wat tydens die opgrawings in Qumran gevind is, sluit hierby aan. Die gemeenskap wat in Qumran geleef het, was waarskynlik nie groot nie. Sommige geleerdes meen dat daar so min as 15 of 20 mense geleef het, terwyl ander die getal so hoog as 350 skat. Waarskynlik was die getal bewoners nooit meer as 200 nie. Sommige geleerdes meen dat die groep wat in Qumran gewoon het, net mans ingesluit het. In die grafte is egter ook oorblyfsels van vroue en kinders gevind, wat ’n uitsluitlik manlike groep onwaarskynlik maak. (Kyk ook: Dooieseerolle.)

Vir verdere lees: J Vanderkam en PW Flint 2002. The Meaning of the Dead Sea Scrolls. San Fransisco: Harper.

 

Sidebar