RAAD VAN GOD

RAAD VAN GOD. Die Bybel* praat op verskillende plekke oor die raad of plan of besluit van God (bv Ps 33:11; Jes 46:10; Hand 2:23; Ef 1:11). Ons moet dit so verstaan dat al God se dade in die tyd die uitvloeisel is van sy raadsbesluit in die ewig­heid. God tree nie willekeurig of wispelturig op nie; Hy doen altyd alles wat Hom behaag en soos Hy Hom voorgeneem het (Luk 2:14; Ef 3:11).

Omdat God só is, is sy raad ook ewig, vry­magtig, wys, onveranderlik, regverdig, goed ens. Ons moenie aan die raad van God dink as iets abstraks, los van God, soos ’n “wêreldplan” wat noodwendig uitgevoer moet word nie. Nee, Hy wat besluit het, besluit steeds, en Hy doen dit altyd met heilige* barmhartigheid* en regverdig­heid (Kyk by: Geregtigheid).

Hoewel ons dit nie presies kan verklaar nie, bely ons as gelowiges dat God se raad oor alle dinge gaan: skepping*, voorsienigheid*, sonde*, maar ook die verlossing (Kyk by: Redding) in Christus* en die herskepping deur die Gees*. In sy heilsraad (ook genoem: vrede­raad) word dit duidelik dat Hy nooit deterministies werk nie (asof mense nie ’n eie, vrye wil het nie), maar altyd ons menslike selfwerksaamheid inska­kel by sy Goddelike alwerksaamheid. Ons mag gelowig bou op die vaste fondament van sy raad, terwyl ons ook gehoorsaam ons verantwoordelikheid nakom.

Sidebar