RABBI, ONDERWYSER

RABBI, ONDERWYSER. Die Hebreeu­se* woord “rabbi” beteken “my groot een, my leermeester, my onderwyser, my meneer”, en is ’n aanduiding van respek teenoor meer­deres. Dit word sedert die 2de eeu vC vir leraars van die wet* gebruik. In Jesus* se tyd verwys dit na Joodse* Skrifge­leerdes*. In Aramees* is dit rabboeni (Mark 10:51). Dit kom net in die Evangelies* voor en wel 15 keer. Dissipels* mag nie rabbi’s genoem word nie (Matt 23:8). In Grieks* is “rabbi” didaskalos (Matt 23:8; Joh 1:38). Behalwe Johannes die Doper* (in Joh 3:26) word net Jesus* rabbi genoem. Jesus word dus deur sy dissipels en die mense as on­derwyser beskou. Tog was Hy anders as die ander rabbi’s – Hy roep dissipels na Hom toe, hulle soek Hom nie op nie. Vroeg in Markus* (1:22) lees ons dat Jesus met gesag* leer. Jesus kon Homself handhaaf in twisgesprekke met die Skrifgeleerdes (Matt 22:24, 33). In Markus* is dit dissipels en buitestaanders wat Jesus as rabbi aanspreek. Maar in Matteus* (bv 8:25) noem die dissipels Jesus eerder “Here*” as “Meneer” (Mark 4:38). Net die verraaier, Judas*4, noem Jesus “rabbi” in Matt 26:25, 49. In Lukas* kom die Aramese term rabbi glad nie voor nie, maar word dit meestal vervang deur epistates (Meneer/Here in Grieks – Luk 8:24; 9:49).

Sidebar