RABBYNSE SKOLE

RABBYNSE SKOLE. Die Rabbyne het ’n bepalende rol vervul in die vroeë Ju­daïsme* nadat die verskynsel van profesie* in Juda*4 ten einde geloop het. In ’n poging om die Skrifte uit te lê, het hulle begin om ’n skerp onderskeid te maak tussen die mondelinge en die geskrewe tora* (wet). Twee prominente Rabbynse geleerdes wat teen die einde van die 1ste eeu vC en die begin van die 1ste eeu nC in Palestina* opgetree het, is Sjammai en Hillel. Hulle het twee skole van interpretasie van die mon­delinge wet gestig. Hierdie skole het hoofrigtings in die Fariseïsme (Kyk by: Fariseërs) verteenwoordig tydens die Jabne*-tydperk toe onder andere die tekste van die Ou Testament* vasgestel is en die Judaïsme* herstruktureer is. Sjammai was ’n meer konserwatiewe geleerde wat ’n meer letterlike interpretasie van die Skrifte voorgestaan het. Hillel, daarenteen, word as meer toegeeflik en liberaal getipeer. Hy het eerder na die bedoeling van Skrifgedeeltes gevra. Laasgenoemde se standpunt het die oorhand gekry in die sg Jabne­gebeure. Daar het ook uiteenlopende dispute bestaan tussen hierdie twee skole wat later vervat is in talle Rabbynse geskrifte, soos die halakah (wyse van handel en wandel) en die latere Misjna*.

Sidebar