RABIE, CHRISTIAAN

RABIE, CHRISTIAAN (1845–1929) het sy teologiese studie op Stellenbosch voltooi en is deur die NG Kerk* se sending*kommissie na die Soutpans­berg gestuur waar hy betrokke was by die stigting van ’n opleidinginsti­tuut vir swart evangeliste. In 1871 aanvaar hy ’n beroep na Piketberg en in 1881 een na die Swartland-gemeente (Malmesbury). Rabie het by geleentheid sy kommer teenoor ds W Murray van Worcester uitgespreek oor die sieleheil van doofstom kinders in sy gemeente. Albei van hulle was daarvan oortuig dat ’n skool vir dowes op Worcester nodig is, en het dit in kerklike vergaderings laat blyk. Die sinode* van 1880 het ’n kommissie benoem met Rabie en Murray as lede en dit het in 1881 tot die totstandko­ming van die Instituut vir Dowes (Kyk by: Dowes, Instituut vir) gelei. Dit is spoedig gevolg deur ’n soortgelyke instituut vir blindes (Kyk by: Blindes, Instituut vir).

Sidebar