RADIO, TELEVISIE EN GODS­DIENS

RADIO, TELEVISIE EN GODS­DIENS. Die kerk en godsdienstige orga­nisasies het vroeg reeds die waarde van die radio en televisie ingesien om die evan­gelie* uit te dra na plekke waar dit andersins nie maklik sou kom nie. In die VSA en Europa het radiostasies wat hulle toelê op Christelike uitsendings, in die 20ste eeu groot impak gehad – dink aan Trans World Radio wat met kortgolfuitsendings tot in “onbereikte” gebiede kon kom. In Suid-Afrika het die openbare uitsaaier, die SAUK (SABC), tot in die 1970’s ’n monopolie gehad op alle uitsendings, maar dit het verander toe Trans World Radio van Swaziland af begin uitsaai het en uitsen­dings ook in Suid-Afrika opgevang kon word. Later het Trans World Radio, toe ook Trans­wêrel­d­radio genoem, ’n Suid-Afrikaanse hoofkantoor in Pretoria gevestig, mettertyd Radio­kansel* geword en die afgelope jare op mediumgolf (vroeër ook oor die SAUK se Radio 2000-kanaal op FM) in al die amptelike tale van Suid-Afrika uitgesaai. Die radio­diens van die SAUK was oor die jare goedgesind teenoor die godsdiens en op naastenby al hulle senders is gods­diens­programme uitgesaai. In van die dienste wat in swart tale uitsaai, bv Xho­sa, is die godsdienskomponent van die belangrikstes. Ook die Afrikaanse diens, Radio­sondergrense (RSG), het ruim tyd aan godsdiensuitsendings afgestaan. Dié komponent is mettertyd uitgekontrakteer en buite-instansies maak sommige godsdiensprogramme vir die SAUK. Ere­dienste, oordenkings en godsdienstige be­sprekings­programme kan gereeld oor RSG gehoor word. Daar is ook talle private streekradiodienste in die land wat heelwat godsdiensprogramme uitsaai (soos Radio Tygerberg).

Televisie is ’n duurder medium, maar in die buiteland word dit op groot skaal benut om die evangelie uit te dra. Die “televangelists” in veral die VSA is welbekend – hulle bereik miljoene mense in glansprogramme wat veral rondom bepaalde charismatiese predikers gebou word. In Suid-Afrika was die SAUK in die jare ná 1994 nie altyd ewe bereid om aan godsdiens sy regmatige plek op sy televisiedienste te gee nie, maar mettertyd het die benadering verander en instansies soos Christen-Netwerk/Radiokansel en Rhema het ook televisie-godsdiensprogramme vir die SAUK vervaardig. Die betaaldiens MNet het van kort ná sy ontstaan godsdiensprogramme op van sy kleiner senders uitgesaai, en e-tv saai ook godsdiensprogramme uit. Ook kykNET, die Afrikaanse kanaal van MNet/MultiChoice, saai   godsdiensprogramme uit.

’n Paneel waarin ’n groot aantal gods­diensgroepe verteenwoordig word, adviseer die openbare uitsaaier oor godsdiensuitsendings. Uit die aard van die saak word daar, naas Chris­telike godsdiensuitsendings, ook vir ander gelowe uitsaaityd gegee, maar die uitsaaityd wat aan elkeen toegestaan word, hou verband met die grootte van die betrokke godsdiens se aanhang in ’n bepaalde taalgroep.

Die hoofstroomkerke in Suid-Afrika het egter nog ’n pad om te loop voordat hulle die radio en televisie ten beste sal benut. Die geleentheid wat Christen-Netwerk (CNW) die kerke in die 1990’s gebied het om eendragtig saam te werk, volle beleidsinspraak te hê, finansieel betrokke te raak en gesamentlik die beskikbare mediakanale so goed en so professioneel as moontlik te ge­bruik, is ongelukkig nie benut nie, en die kerke het die inisiatief daar­mee uit hulle hande laat gaan. Die gevolg is dat onaf­hanklike organisasies nou die werk doen en die kerke bakhand moet wag vir uitsaaikanse wat na hulle kant toe kom.

 

Sidebar