RADIOKANSEL

RADIOKANSEL het op 4 Julie 1981 onaf­hanklik geword van Transwêreldradio en is deel van die Christen-Elektroniese Media­groep (CEM-Groep). Radiokansel se visie is om in opdrag van Jesus* Christus* die Blye Boodskap deur woord en daad te verkondig, hoofsaaklik aan alle Suid-Afrikaners, en ’n speler te wees om morele (Kyk by: Moraliteit) waardes te versterk en by te dra tot hoop, versoening en genesing (2 Kron 7:14). Radiokansel is volgens sy missie ’n onaf­hanklike, transkerklike en transkulturele Christelike multimedia-organisasie en verkondig die evangelie* deur middel van hoë kwaliteit radio- en televisieprogramme, publikasies, die internet en uitreikaksies. Die kyk- en luisteraarsprofiel strek nasionaal oor alle ouderdoms-, geslags-, taal-, gemeenskaps-, bevolkings- en inkomstegroepe. Daar word in al die amptelike landstale uitgesaai.

Radio-uitsendings (veral oor mediumgolf) is die hoofmedium wat Radiokansel gebruik vir die daaglikse uitdra van die evangelie. Sedert 2014 saai Kaapsekansel, as die Kaapse sender van Radiokansel, ook daagliks uit. By www.radiokansel.co.za kan ’n mens na radio-uitsendings via internet luister. Die Radio­kansel-webblad bevat omvattende inligting oor uitsendings, aanbieders, Radiokansel-aktiwiteite en projekte, jeug en publikasies. (Kyk ook by: Radio, Televisie en Godsdiens.)

 

Sidebar