RAMA

RAMA. Al die Bybelse verwysings dui op ’n “hoogte” wat waarskynlik ’n aanduiding is dat al die dorpe op hoogliggende gebiede was. Vier plekke met hierdie naam kom voor, waarvan die bekendstes die volgende twee is:

  1. ‑Rama in Benjamin* (Jos 18:25), in die nabyheid van Gibea* (Rig 19:13), op die pad na Bet-El* (Rig 4:5), was sowat agt km noord van Jerusalem*. Ná die val van Jerusalem* is Jeremia* hier vrygelaat (Jer 40:1) en die stad is ná die ballingskap* weer bevolk (Esra 2:26; Neh 11:33).
  2. ‑Rama in Efraim*, ook bekend as Rama­tajim, in die Suf-gebied van die Efraim­berge (1 Sam 1:1), ongeveer 35 km noordwes van Jerusalem, was meer bekend en wel as die tuiste van Samuel*, waarvandaan hy met sy sirkelroete vir regsprake gegaan het (1 Sam 7:17). Hier het Israel* vir ’n koning gevra (1 Sam 8:4); het Saul* die eerste keer vir Samuel ontmoet (1 Sam 9:6); en het Dawid* skuiling gevind in die profetekwartiere toe hy van Saul gevlug het (1 Sam 19:18-24). Hierdie Rama word ook genoem in die beeld van die ma se klag oor haar kinders wat in ballingskap weggevoer is (Jer 31:15). In die Nuwe-Testamentiese* tyd was hierdie dorp bekend as Arimatea (Matt 27:57). Josef*3, ’n ryk man, lid van die Sanhedrin* en dissipel* van Jesus*, het vir Pilatus* gevra vir Jesus se liggaam en sy eie graf tot beskikking van Jesus gestel.

 

Sidebar