RAMESES II

RAMESES II is die derde farao* van die 19de Egiptiese* dinastie (1279–1213 vC), en was ook bekend as Rameses die Grote. Rameses II was een van die grootste bouers in die Egiptiese Ryk en het verskeie monumente, tempels en grafkelders nagelaat. Hy het sy pa, Seti I, se stryd teen die Ka­naäniete* en Hetiete* voortgesit, en ná sy oorwinning by Kades sluit hy ’n nie-aanvalsverdrag met hulle. Volgens dié verdrag is die noordelike deel van Sirië* aan die Hetiete afgestaan, terwyl die suidelike deel van Sirië asook Palestina* deur Egipte beheer is. Rameses het in totaal agt hoof­vroue gehad, waaronder twee Hetitiese prinsesse. Dit was die eerste keer in die geskiedenis dat nie-Egiptiese vroue amptelike koninginne van Egipte geword het. Rameses II het sy hoofstad van Tebes na die ou Hiksos*-hoofstad Avaris (ook Tanis of Rameses ge­noem) verskuif.

Dit is moontlik dat ten minste die Josef*-stamme (Efraim* en Manasse*) in Egipte was tydens die regering van Rameses II en gehelp het met die bou van Tanis en Pitom (vgl Eks 1:11). Rameses II kon moontlik die farao van die uittog* gewees het. Hy het 67 jaar lank regeer en was dus in sy negentigs toe hy dood is.

Sidebar