RAMSAY, WILLIAM MITCHELL

RAMSAY, WILLIAM MITCHELL (1851–1939) studeer aan die Aberdeen-universiteit en gradueer in 1871 in klassieke tale. In 1879 is ’n driejaar-studiereisbeurs deur Exeter-kollege, Oxford, aan hom toegeken. Hy was die eerste professor in Klassieke Kuns en Argeologie te Oxford (1885–1886) en Regius (koninklike) professor in Latyn te Aberdeen-universiteit (1886–1911). Hy was medestigterslid van die Britse Akademie (1903) en is in 1906 tot ridder geslaan. Hy het baie argeologiese* besoeke aan Klein-Asië* gebring. Hy het hom gou onderskei as outoriteit in Anatoliese argeologie. Sy hoofvakkundige bydraes in hierdie veld is: Historical Geography of Asia Minor (1890), en Cities and Bishoprics of Phrygia (2 volumes, 1895, 1897). Ander bydraes verskyn in artikels en woordeboeke, veral Roads and Travel (in NT), Hastings’ Dictionary of the Bible, V (1904). In ’n vroeë stadium van sy historiese navorsing het Ramsay tot die oortuiging gekom – téén die invloedryke Tübingenskool in – dat Handelinge* ’n produk is van die eerste eeu, en nie van die tweede eeu nie; ook dat Pau­lus* se brief aan die Galasiërs* gestuur was aan die gemeentes* in die suidelike streek van die Romeinse provinsie van Galasië. Sy gespesialiseerde kennis oor Nuwe-Testamentiese* studies het hy as populêr-wetenskaplike werke aangebied.

Vir verdere lees: FF Bruce 1993. Dictionary of Scottish Church History and Theology. Edinburg: T&T Clark. JGS An­derson 2005. “Ramsay, Sir William Mitchell” in: Oxford Dictionary of National Bio­graphy. Oxford: Oxford University Press.

 

Sidebar