RASSISME

RASSISME verwys na sekere dominante versus ondergeskikte gesindhede en gedrags­patrone tussen verskillende groepe. Die woord het in die 1930’s sy verskyning gemaak toe ’n begrip gevind moes word om die teorieë ten grondslag van die Na­zi’s* se vervolging van die Jode* te tipeer. Die vroeë spore van rassisme word opgemerk in die sterk antisemitiese gevoelens wat in die Middeleeue geheers het. Die Europese koloniale ekspansionisme wat in die 15de eeu momentum gekry het, is deels aangedryf deur rassistiese oortuigings. Die hoogbloei van rassisme word in die 20ste eeu beleef, met as voorbeelde (hoewel nie op dieselfde vlak nie) die strewe na rassesuiwerheid in die Amerikaanse suide, die Nazïsme en die Suid-Afrikaanse apartheidsbeleid*.

Die kern van rassisme is die ongelyke, onregverdige en kwaadwillige/vyandige be­han­deling van mense op grond van waar­genome of werklike fisieke, biologiese of kulturele verskille en die klassifisering van indiwidue op grond van die aanwesigheid of afwesigheid van sodanige eienskappe. Rassis­me is geïnstitusionaliseer in praktyke soos kolonialisme*, slawerny* en rassesegregasie. Sedert die Tweede Wêreldoorlog* het sulke flagrante en geïnstitusionaliseerde vorms van rassisme afgeneem. Suid-Afrika, daarenteen, het toe met die apartheidstelsel, wat rassisme bevorder het, begin. Dit is eers in 1994 wetlik ontbind. Dit beteken nie dat rassisme tot die verlede behoort nie en dit is ook nie net in Suid-Afrika ’n pro­bleem nie. Daar is bv sprake van ’n nuwe rassisme (new racism) in die VSA, Brittanje en Frankryk, met as voorbeeld die rassemoord deur ’n wit Amerikaner op swart lidmate van die African Methodist Episcopal Church (AME-kerk) in 2015. Die voedingsaar hiervan is nie die beoordeling van aangebore eienskappe nie, maar die verabsolutering van kultuur wat as ewe onveranderlik as ras gesien word.

Waar rassisme aanvanklik binne die Westerse filosofie* en Christelike etiek* verdedig is, is dit sedert die Tweede Wêreldoorlog toenemend gekritiseer en rassistiese klassifikasiestelsels afgewys as immoreel en onchristelik. In ’n groot deel van die wêreld is daar vandag eenstemmigheid oor standaarde wat van toepassing is op alle groepe, ongeag van ras of afkoms.

Vir verdere lees: JF Childress en J Mac­quarrie (red) 1986. The Westminster Dic­- t­ionary of Christian Ethics. Philadelphia: Westminster. GM Frederickson 2002. Ra­cism: A Short History. New Jersey: Princeton University Press.

Sidebar