RATRAMNUS

RATRAMNUS (?– circa 868). Daar is min oor hierdie Benediktynse monnik van Corbie bekend. Hy het hom verset teen sy kollega Paschasius* se siening van die eucharistie* wat later bekend geword het as transsubstan­siasie*. Hy het ook ’n boek met dieselfde titel as sy kollega geskryf: De Corpore en Sanguine Domini (Oor die liggaam en bloed van die Here). Dit is later as kettery* afgewys. Omdat sy standpunt nie aanvaar is nie, het hy gou in die vergetelheid geraak.

Gedurende die Reformasie* het die boek weer die belangstelling gaande gemaak en dit is in 1532 herdruk. Dit het in Engeland – en veral op Thomas Cranmer* – groot invloed gehad.

Ratramnus wou in sy boek die antwoord op twee vrae gee. 1. Sien ons in die eucha­ristie die werklike liggaam van Christus* met ons menslike oë, of is die liggaam van Christus vir ons menslike sig weggesteek? 2. Is die Christus wat in die eucharistie teenwoordig is, dieselfde as die historiese Jesus*? In sy antwoord op die eerste vraag onderskei hy tussen die onsigbare substansie wat die ware liggaam en bloed van die Here* is, en die uiterlike voor­koms van die brood en wyn wat dieselfde bly nadat dit deur die priester*2 gewy is. Op die tweede vraag antwoord hy negatief: die Christus in die eucharistie is nie dieselfde as die Jesus wat uit die maagd Maria*1 gebore is, wat gely het, gesterf het en begrawe is en wat opgestaan en opgevaar het na die hemel en aan God se regterhand sit nie.

Hy het ook ’n boek oor die uitver­kiesing* geskryf waarin hy sê dat daar ’n tweeledige verkiesing is.

Sidebar