RAUSCHENBUSCH, WALTER

RAUSCHENBUSCH, WALTER (1861–1918) is opgevoed in ’n konserwatiewe Duitse Baptiste tradisie. (Baptisme = Godsdienstige rigting wat bv die doop* net aan volwassenes en net deur onderdompeling toedien.) Hy was ’n Duitse immigrant, ’n Baptiste predikant*, kerkhistorikus en teoloog* van die social gospel* in Amerika. In 1907 het hy prominent geword vanweë sy publikasie Christianity and the Social Crisis. Drie groot werke en vier kleiner publikasies het gedurende die laaste tien jaar van sy lewe verskyn. In hierdie tyd was hy die Amerikaanse Protestantisme* se bekendste profeet. Die sosiale nood, armoede, misdaad en werkloosheid van sy tyd in New York het hom geweldig aangegryp. Sy groot bemoeienis was om die twee dominante visies van sy lewe te integreer: die religieuse en die maat­skaplike. Die saambindende krag tussen die Christelike evangelie* en die maatskaplike sorg het hy in die koninkryk van God gevind. Hy het homself geïdentifiseer met die teologiese denke van Schleiermacher*, Ritschl, Harnack en ander. Sedert 1902 was hy professor in kerkgeskiedenis* by die Rochester-Teolo­giese Seminarium, New York. Die klimaks van sy produktiewe laaste dekade het in 1917 verskyn as Taylor Lectures by Yale. Daarin konstateer hy: “We have a social gospel. We need a systematic theology large enough to match it and vital enough to back it.”

Vir verdere lees: RT Handy 1965. “Walter Rauschenbusch” in: ME Marty and DG Peerman, Handbook of Christian Theolo­gicans, Nashville: Abingdon Press. W Rau­schen­busch 1961. A Theology for the Social Gospel, Nashville: Abingdon,

Sidebar