REALISME

REALISME in die teologie* is die standpunt dat God bestaan as ’n werklikheid buite en onafhanklik van die wêreld. Dit is in die Middeleeue sterk gepropageer deur Ansel­mus* met sy beroemde “ontologiese” bewys vir die bestaan van God (Kyk by: Raad van God). Ingevolge hierdie bewys, wat die bestaan van God aflei van die im­plikasies van die betekenis van die begrip “God” (gede­finieer as “dit groter as wat niks gedink kan word nie”), moet God bestaan, nie slegs in die denke nie, maar ook in die werklikheid. As God immers slegs in die denke bestaan, is God nie meer dit “groter as wat niks gedink kan word nie”, want dan kan ons aan iets dink wat nóg groter is: iets/iemand wat sowel in die denke as in die werklikheid buite die denke bestaan.

Pogings om die werklikheid van God buite ons denke aan te toon, leun hedendaags swaarder op analises van die Christus*-figuur, die optrede van mense wat in God glo, asook op die taal wat gelowiges oor God gebruik. Die tipies indirekte of analogiese taal wat ons vir God gebruik, het naamlik volgens hierdie denkers die vermoë om God nie slegs te beskryf nie, maar om sy werklikheid ook te onthul.

Vir verdere lees: A Moore 2003. Realism and Christian Faith. Cambridge: Cam­bridge University Press; W van Huyssteen 1986. Teologie as kritiese geloofsverant­woording. Pretoria: RGN.

Sidebar