REBELLIE

REBELLIE, 1914. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog* het Engeland die Unie van Suid-Afrika gevra om die radiostasies in Duits-Suidwes-Afrika (tans Namibië) te verower. Dit het beteken dat Suid-Afrika aan die kant van Engeland teen Duitsland aan die oorlog sou deelneem. Op 10 Augustus 1914 het Suid-Afrika laat weet dat hy aan die versoek sal voldoen.

Genls Christiaan de Wet* en Koos de la Rey* en ’n aantal ander prominente leiers van die Anglo-Boereoolog* het besluit dat hulle nie deel wou hê aan “Engeland se oorlog” nie. Hulle het Suid-Afrika se deelname aan die Eerste Wêreldoorlog teëge­staan. Ook die hoof van die verdedigingsmag, genl CF Beyers, het die premier, Louis Botha*, laat weet dat hy teen die plan gekant is. Daar was ’n groot aantal Afrika­ners* wat eerder aan die kant van Duits­land as Engeland sou wou veg. Die herinneringe aan die Anglo-Boereoorlog* van enkele jare tevore was nog sterk in hulle geheue.

In September het die parlement Suid-Afrika se deelname aan die oorlog goed­ge­keur. Op 15 September het Beyers sy bedanking ingedien. Dieselfde dag het De la Rey en Beyers na Potchefstroom vertrek om hulle protesplan teen die aanval op Suidwes-Afrika van stapel te stuur. Hulle het ’n coup d’état beplan wat op die grens met Suidwes-Afrika, in die Vrystaat en op Potchefstroom sou plaasvind. By Langlaag­te is De la Rey deur ’n opslagkoeël van die polisie, wat op soek was na die berugte Fosterbende, doodgeskiet.

Sowat 11 400 swak toegeruste mans het aan die rebellie deelgeneem. Krygswet is afge­kondig en regeringstroepe het met mening op die rebelle toegeslaan. De Wet was nie opgewasse nie en het sy manskappe aangeraai om Louis Botha se am­nes­tie-voorstel te aanvaar. Self het hy saam met ’n handjievol ondersteuners het hy na die Kalahari vertrek. Op 30 November het ’n informant regeringstroepe ingelig dat De Wet in die distrik skuilgehou het. Hulle het hom dadelik met motors agtervolg. Vir die eerste keer in sy lewe is De Wet gevange geneem. Toe hy verneem dat sy agtervolgers Afrikaners was, het hy opgemerk: “Dank God daarvoor. Dan het die Engelse dit nooit reggekry om my te vang nie!” De Wet is in die Johannesburgse Fort opgesluit. Hy is ses jaar gevangenisstraf en ’n stywe boete opgelê. Die boete is vinnig deur middel van vrywillige skenkings betaal. Ná ses maande is hy vrygelaat, maar die tyd in die tronk het sy gesondheid geknak.

Beyers en sy troepe is op 16 November by Bultfontein ’n nekslag toegedien. Beyers het gevlug, maar het op 8 Desember in sy poging om van die aanvallers te ontsnap, in die Vaalrivier verdrink. Slegs in die omge­wing van Pretoria het ’n aantal mans onder leiding van Jopie Fourie* hardnekkig voortgeveg. Fourie is uiteindelik op 16 Desember gevang en enkele dae later tereggestel. Daarmee was die rebellie verby. Na afloop van die rebellie het veral in die Vrystaat ’n hewige kerktwis ontstaan tussen die “regeringsgesinde” lidmate van die NG Kerk* en die “rebelliegesindes”. Eersgenoemdes – met as een van hulle leiers Piet de Wet, jonger broer van Christiaan de Wet met wie hy sedert die Anglo-Boereoorlog, toe hy ’n “hensopper” was. oorhoops gelê het – wou opsluit hê dat kerklike sensuur teen die rebelle toegepas moet word, veral in die lig van Rom 13:1,2: “ … want daar is geen gesag wat nie van God afkomstig is nie; en dié wat daar wel is, is deur God ingestel. Wie die gesag teenstaan, verset hulle dus teen die instelling van God, en diegene wat hulle verset, sal ’n oordeel oor hulleself bring” (2014-Direkte Vertaling). Volgens die regeringsgesindes was die rebellie niks anders as opstand teen ’n instelling van God nie. Vrystaatse pro- en anti-gemeentes het oor dié saak van mekaar weggebreek en mense soos oudpres MT Steyn* en Vader Kestell* het vergeefs probeer bemiddel. Op die ou end is die hof gevra om te beslis dat rebelle nie nagmaal* kon gebruik nie – wat die hof nie wou doen nie aangesien die gebruik of nie-gebruik van die nagmaal ’n “geestelike” saak is waaroor die hof hom nie kon uitlaat nie. Ná die hofuitspraak het die gemoedere algaande tot bedaring gekom.

In die Afrikaner-geskiedenis neem die 1914-rebellie ’n eie plek in. Dit hou verband met die Afrikaners se stryd om die Anglo-Boere­oorlog en sy naweë te verwerk en om ook in hulle gemoed met die Engelse vrede te maak. Die rebellie van 1914 was egter gewapende opstand teen ’n wettige rege­ring en die Christelike etiek* laat nie toe dat dit sonder meer goedgekeur word nie.

Vir verdere lees: Albert Blake 2016. Broedertwis. Bittereinder en Joiner: Christiaan en Piet de Wet. Kaapstad: Tafelberg.

 

Sidebar