REDDING

REDDING. Dwarsdeur die Bybel* word God uitgebeeld as die Redder wat mense op verskillende maniere red. In die Ou Testa­ment* word gesê dat Hy indiwidue uit moeilike situasies red, bv ’n vrou uit ’n situasie van onvrugbaarheid (Rig 13:2-3), of iemand van sy persoonlike vyande (Ps 7), tydens die gevare van oorlog* (Ps 18), of van die dood* (Ps 86:13). Bowenal word God egter in die Ou Testament uitgebeeld as die Redder van sy volk: hulle was slawe* in Egipte* (Eks 1:11) en was bedreig deur uitwissing (Eks 1:8-22), maar God red hulle uit Egipte en lei hulle na die Beloofde Land. Daar gaan God voort om Israel* teen hulle vyande te beskerm. Later red Hy hulle weer uit die ballingskap* en bring hulle terug na hulle land.

In die Nuwe Testament* word die ge­dagte van redding ook op verskillende maniere uitgebeeld: mense word deur God uit noodsituasies gered (bv Paulus* en almal saam met hom tydens sy skipbreuk, Hand 27:20 en volgende verse), van onvrugbaarheid (Luk 1:7), liggaamsgebreke (Mark 3:4), siekte* (Luk 8:48), bose geeste (Mark 1:34), sonde* (Luk 15:18), die dood* (Matt 14:30), en die bose (Matt 6:13). Die grootste klem val egter op die feit dat God mense deur Jesus* Christus* van hulle sonde verlos. Volgens die Nuwe Testament is Christus se koms deur die Ou Testament voorspel en is dit Hy wat “sy volk van hulle sondes sal verlos” (Matt 1:21) – Hy is die Verlosser van die wêreld (Joh 4:42). Alle mense het gesondig (Rom 3:23) en is uitgelewer aan sonde en die dood (Rom 5:12-21), maar word gered deur hulle geloof* in Christus wat gesterf en uit die dood opgewek is (Hand 13:38-39). Die Nuwe Testament beklemtoon verder dat God in die toekoms ook sal red. Met sy weder­koms* sal Christus al sy vyande finaal verslaan en die gelowiges red.

Sidebar