REEVES, RICHARD AMBROSE

REEVES, RICHARD AMBROSE (1899–1980) is in Engeland gebore. Van 1935–1937 was hy aan die Londense bisdom verbonde. In Junie 1949 is hy as biskop* van Johannes­burg in die St George-katedraal in Kaapstad gewy. Hy het onmiddellik met vasberadenheid die reorganisa­sie van die bisdom onderneem. Dit het tot gevolg gehad dat baie mense hom as ’n diktator beskou het. Hy het met ’n sending*veldtog begin met die doel om die Anglikaanse Kerk* aan die Witwatersrand te laat herlewe en om godsdiens ’n positiewe krag op die kampus van die (destyds enigste) Engelstalige universiteit van dié streek te maak. Die voorsiening van nuwe kerke en die oplei­ding van swartmense vir die priesteramp*2 was belangrike aspekte van sy veldtog. Sy ontoegeeflike bepleiting van die saak van rasse-integrasie het hom in botsing met die regering gebring. Hy was die fokuspunt van radikale elemente wat die bestaande apartheidsorde* omver wou werp. Hy het ’n leidende rol in die Congress Movement gespeel (1955). Ná die betoging in Sharpeville (Maart 1960) en sy bemoeienis om fondse in te samel vir regskoste van die verdediging, vlug hy uit vrees vir arrestasie via Swaziland na Engeland. In September 1960 keer hy terug na Suid-Afrika vir die Cottesloe*-beraad, maar is binne twee dae gedeporteer.

Vir verdere lees: CJ Beyers en JL Basson 1987. Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek, deel 5. Pretoria: RGN. OM Suberg 1999. The Anglican Tradition in South Africa. A historical Overview, Pretoria: Unisa Press.

Sidebar