REG

REG se woordeboekbetekenis is onder meer: 1. Geregtigheid*, regverdigheid, billikheid. 2. Kompleks van regsreëls soos in die wetboeke vasgelê. 3. Regsgeleerdheid. 4. Gelyk (“Reg hê”). 5. Wetlike, sedelike bevoegdheid. 6. Aanspraak (“Jou regte laat geld”). 7. Wat iemand toekom, waarop aanspraak gemaak kan word. 8. Belasting (bv doeanaregte) (HAT, 2005).

Die begrip “reg” in die sin van “mensereg” is ’n produk van die moderne wêreld (dit is die wêreld sedert die 17de eeu). Die idee van menseregte* het ontstaan as ’n reaksie op outoritêre en tirannieke regeringsvorms en heersers. Die aanspraak op ’n reg is oorspronklik bedoel as ’n aanspraak op vryheid, oftewel ’n aanspraak op mense se soewereiniteit oor aspekte van hulle lewe waarby ander mense nie sonder toestemming mag inmeng nie. Menseregte is dus oorspronklik beskou as sg “negatiewe” regte: dit is waarborge dat ander mense nie my vryheid om te lewe, om te kan beweeg, om te dink en te sê wat ek wil en om eiendom te besit, aan bande mag lê nie.

In die loop van die 20ste eeu is die betekenis van die begrip vanweë ’n verskeidenheid sosiale en politieke ontwikkelings, ook uitgebrei tot meer “positiewe” aansprake. Hierdie aansprake word ook sosiale regte genoem. Nou word die begrip “reg” nie meer gebruik om my net teen ander mense/heersers te beskerm nie, maar dit word gebruik om my aanspraak op sosiale voordele tot uitdrukking te bring. Onder hierdie voordele tel die reg op gesondheidsorg, opvoeding, ’n veilige omgewing en selfs behuising. Daar moet egter gesagstrukture bestaan wat hierdie regte effektief kan afdwing.

Vir verdere lees: R Dworkin 1977. Taking Rights Seriously. Londen: Duckworth; DA du Toit (red) 1984. Menseregte. Kaapstad: Tafelberg.

 

Sidebar