REGSPRAAK, REGTER

REGSPRAAK, REGTER. In die Ou Tes­ta­ment* word God as die Regter van die hele aarde beskou (Gen 18:25) en daarom ook as die Bron en Beskermer van reg* en geregtigheid* (Ps 97:2). God verwag van sy volk reg en geregtigheid (Amos 5:24), veral dat hulle regverdig* sal optree teenoor die weerloses in die samelewing, bv die weduwees en die weeskinders (Ps 10:17-18).

As die hoogste Regter gebruik God mens­like regters wat namens Hom moet regspreek. In baie gevalle moes mense wat ander leiersposisies beklee het, in Ou-Testamentiese tye ook as regters optree, bv stamhoofde (Gen 49:16), of die hoëpriester* (Sag 3:7). Een van die belangrike take van die konings* van Israel* was ook om reg te spreek en te laat reg geskied aan almal, veral die weerloses.

In die tyd van die Nuwe Testament* was die regspraak in die hande van die Romeinse regering (Kyk by: Romeinse Ryk). Hulle het egter dikwels sekere magte aan die verslane volke gedelegeer en beperkte selfregering toegelaat. In Jesus* se tyd kon die hoëpriester en die Joodse Raad (San­hedrin*) self baie van die regspraak han­teer. Die finale gesag het egter by Pilatus*, die Romeinse goewerneur, gelê. In die algemeen was die Romeinse regstelsel redelik regverdig. Daar was egter uitsonde­rings soos in die geval van Jesus.

Sidebar